
Davel sê die polisie se gebrekkige toepassing van die nasionale landelike veiligheidstrategie dra sonder twyfel by tot die toename in geweldsmisdaad teen die landbousektor. Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale kommissaris van polisie in Mpumalanga, en haar bestuurspan word dringend versoek om dié strategie te prioritiseer en toe te pas soos herbevestig tydens vanjaar se nasionale landelike veiligheidsberaad, wat einde Junie in Parys in die Vrystaat gehou is.
“Die hoë misdaadsyfer in landelike gebiede plaas landbouprodusente en die volhoubare produksie van voedsel vir miljoene verbruikers onder aansienlike druk. Die druk op en gepaardgaande frustrasie van landbouprodusente gaan onvermydelik breekpunt bereik.”
Hy sê Mpumalanga Landbou ondersteun alle regmatige pogings wat ten doel het om boere, plaaswerkers en hul gesinne se veiligheid te verseker. “Die kollektiewe waarde van veiligheidstrukture op grondvlak is noodsaaklik vir die private sektor se bydrae tot die bekamping van misdaad en die voorkoming van lewensverlies.
“Dit is nie nodig om ’n maklike teiken vir misdadigers te wees nie. Word onverwyld aktief deel van jou plaaslike gemeenskap se stryd teen misdaad. Mpumalanga Landbou se strukture maak ook voorsiening vir gemeenskapslede wat nie bona fide-landbouprodusente is nie.
“Ons dank aan talle private sekuriteitsmaatskappye wat ’n reusebydrae tot die veiligheid van die landbousektor lewer.”
Wreedheid ontstellend
Vir dr. Gawie Lötter, TLU SA bestuurder van veiligheid, is dit nie net opvallend dat plaasaanvalle toeneem nie, maar ook die wreedheid wat met dié aanvalle gepaard gaan. Hy verwys spesifiek na mnr. Gideon Swart, die boer van Waterval-Boven wat vroeër hierdie week doodgesteek is, en dr. Jesse Henry Coleman, die boer van Delmas wie se lyk in ’n plas bloed op sy plaas gevind is. Albei was vasgebind.
“Met die aanvalle is daar gevalle van veediefstal, die steel van plaastoerusting en die diefstal van wapens wat in die verkeerde hande beland. Veral laasgenoemde is uiters gevaarlik.”
Volgens TLU SA is daar sedert 1990 reeds 2 203 plaasmoorde aangemeld. Teen 27 September was daar reeds vanjaar 33 plaasmoorde. “Daar is ’n duidelike toename in plaasaanvalle. In Junie was daar twee plaasmoorde, maar sedertdien is die getalle aan die toeneem. In Julie was daar sewe en in September reeds ses.
“Vir TLU SA dui dit op die opportunistiese optrede van misdadigers. Die politieke klimaat met gesprekke wat konsentreer op onteiening sonder vergoeding, binnegevegte in die regerende party en ondoeltreffendheid van die SA Polisiediens is van die faktore wat klimaat skep vir misdadigers om ekstra kanse te waag.”
Lötter meen die “dawerende stilte” van die regering is onrusbarend. “Ons is reeds duidelik bewus dat die toepassing van wet en orde deur die polisie nie na wens is nie. Met nog wapens in die hande van misdadigers is dit ’n tydbom wat wag om te ontplof.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.