Die vyf verdagtes wat ’n boer van Buffelshoek in Potchefstroom na bewering vermoor het, word steeds gesoek, sê die SA Polisiediens.
Kol. Sam Tselanyane, woordvoerder, sê: “Ons volg verskillende leidrade op, maar het nog nie verdagtes geïdentifiseer nie.”
Mnr. David Hall, ’n 49-jarige boer en sy 45-jarige vrou, Bernadette, is Maandagoggend (20 Februarie 2012) deur vyf mans by die melkstal op die plaas Frischgewaagd aangeval.
Hall het tussen die stal en die plaashuis in ’n struweling met die groep betrokke geraak, waartydens hy in die agterkop geskiet is. Hy is op die toneel dood.
Voertuig
Die groep het Bernadette daarna na die huis geneem, waar sy aangerand en met verskeie voorwerpe oor die kop geslaan is. Die mans het haar vasgebind, waarna hulle met die egpaar se voertuig op die vlug geslaan het. Niks is uit die huis gesteel nie.
Me. Hall is Maandagmiddag uit ’n plaaslike hospitaal ontslaan en sterk tans tuis aan.
Die voertuig is Maandag in ’n township naby Fochville gevind.
21 Februarie 2012