
’n Jeugdige (17) is na bewering doodgeskiet deur ’n boer (68) by Glencoe in KwaZulu-Natal. Hy was na bewering deel van ’n groep wat na bewering gewelddadig probeer het om beeste wat deur die boer geskut is, terug te kry.
Luidens ’n verklaring deur kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie in KwaZulu-Natal, het die skietvoorval op Dinsdag 28 September omstreeks 15:30 plaasgevind. Die slagoffer is op die toneel dood weens ’n skietwond in die maag. ’n Verdagte is in hegtenis geneem en hy sou vandag (30 September) in die landdroshof op Glencoe verskyn op ’n klag van moord.
’n Video van die voorval wat op sosiale media versprei is, wys dat die boer met ’n geweer gewapen is. Verskeie mans staan rondom die boer terwyl die slagoffer van die skietery en ’n ander man na bewering probeer om die geskutte beeste vry te laat.
Die video wys verder hoe die boer ’n waarskuwingskoot afvuur en ’n mondelinge waarskuwing aan die slagoffer en die ander man gee om die beeste nie meer te probeer vrylaat nie. Dit lyk asof die slagoffer die boer se waarskuwings ignoreer en hom met ’n staaf aanval. Hy skop die boer in die maag en slaan hom met die vuis in die gesig. Dan raak die slagoffer saam met twee ander mans betrokke by ’n worsteling met die boer om besit van die geweer.
Tydens hierdie stoeiery sê ’n ongeïdentifiseerde omstander herhaaldelik in Zoeloe: “Nee, hou op om hom te slaan. Hou op om hom te slaan.”
Die video van die voorval wys dat die vuurwapen afgaan en die slagoffer val. Die ander twee mans beweeg vinnig weg, terwyl ’n ander ongeïdentifiseerde man herhaaldelik in Zoeloe sê: “Sien jy hoe hy ons broer geskiet het.” Die video eindig dan.
Me. Sandy La Marque, uitvoerende hoof van die KwaZulu-Natalse landbou-unie (Kwanalu), sê die organisasie is diep bekommerd oor die wydverspreide gebrek aan respek vir die wetlike perke en die regte van eiendomseienaars in die provinsie.
“Alle boere by Glencoe loop deur onder van vee wat hul weiding en gewasse verniel. Dit is onwettig. Ingevolge die wet het hierdie eienaars die reg om hierdie diere te skut.”
Sy sê Kwanalu het met groot kommer opgemerk het dat baie gevalle van sulke invalle reg oor KwaZulu-Natal wat deur grondeienaars by die polisie aangemeld is, na bewering nie volledig ondersoek is nie en dat niemand vervolg word nie. Hierdie voortdurende gebrek aan wet en orde het ’n verdere miskenning van eiendomsreg voortgesit en sodoende bygedra tot verhoogde spanning tussen grondeienaars en van hul naburige gemeenskappe.
La Marque doen ’n beroep op gemeenskapsleiers en ander mense om verantwoordelik op te tree en nie uitsprake te maak oor die skietvoorval voordat die hof uitspraak gelewer het nie, want dit kan spanning in die Glencoe-gemeenskap onnodig aanwakker. “Ons moet almal eerder kyk hoe om hierdie spanning aan te pak en om maatskaplike samehorigheid op te bou.”