
Plaasveiligheid is spanpoging, want dit is baie groter as net ’n enkele organisasie of ’n gemeenskap, meen mnr. Wahl Bartmann, uitvoerende hoof van die sekuriteitsmaatskappy Fidelity ADT.
Deur saam te werk en op die uitkyk te wees vir mekaar, kan beter beskerming gebied word.
Bartmann sê misdaad op plase het ’n uitkringeffek op die stabiliteit van die Suid-Afriaanse ekonomie en kosproduksiestelsels en juis daarom lewer dié sekuriteitsmaatskappy al sedert 2019 saam met Agri SA ’n reeks dienste en produkte aan boere en die landelike gemeenskap in ’n poging om die onaanvaarbaar hoë getalle plaasaanvalle en verwante misdade op landbougrond te bekamp.
Daar is verskeie verdere stappe wat boere en plaasbestuurders vandag al kan doen om eiendom, ander bates en personeel gedurende die Desember-vakansietydperk te beskerm wanneer hulle dalk met vakansie wil gaan.
• Sluit aan by die plaaslike plaaswag of veiligheidstelsel wat in jou distrik werksaam is en stel hulle in kennis dat jy vir ’n paar dae in Desember weggaan. Maak seker hulle weet wie vir jou gaan instaan in daardie tyd en dat hulle die regte kontakbesonderhede het.
• Beveilig die hoofhuis met ’n voldoende heining en ligte en maak seker daar is nie struike, bome of plantegroei in die area rondom die huis waar iemand kan wegkruip nie.
• Toets jou sekuriteitstelsel om seker te maak dit werk. As jy lasers of sensors buite het, maak seker dit tel beweging op.
• Maak seker jy weet presies wie op jou eiendom gaan wees terwyl jy weg is en dat jy die persoon vertrou wat jou eiendom namens jou gaan bestuur. Maak ook seker dat almal wat op die plaas gaan wees, presies weet wat om te doen en hoe om op te tree as daar enige misdadige aktiwiteit is terwyl jy weg is.
Bartmann voeg by dat indien ’n boer enige vrae het of onseker is oor die maatreëls wat hy reeds getref het, moet hy so gou moontlik ’n kenner kontak.