
Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, sê die polisie het 11 verdagtes in hegtenis geneem en beslag gelê op onwettige sigarette en vyf van die tien voertuie wat dié sigarette op die Piesanghoek-pad vervoer het.
Lede van Limpopo-polisie se spoorsnyspan en patrolleerders van die Capricorn-hoofweg het inligting ontvang oor die konvooi van Zimbabwe wat op die N1 van Musina in die rigting van Louis Trichardt onderweg was.
Die span het hulle ingehaal nadat hulle ’n ompad gery het om die polisie te vermy. ’n Jaagtog het gevolg en met behulp van die Louis Trichardt-plaaswag is vyf van die voertuie vasgekeer. Die ander vyf voertuie het die polisie te ontglip.
Al die verdagtes is ongedokumenteerde Zimbabwiese burgers wat die polisie aanvanklik met hul vuiste probeer bydam het. Hulle is in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op hul voertuie, asook onwettige sigarette met ’n beraamde waarde van R426 640.
Die verdagtes verskyn vandag in die Louis Trichardt-landdroshof op aanklagte van die besit van en handel dryf met onwettige sigarette, oortreding van die Immigrasiewet, roekelose en nalatige bestuur, die bestuur van ’n voertuig sonder ’n geldige rybewys en verset teen inhegtenisneming.
Daar word steeds na die ander voertuie en verdagtes gesoek. Enigiemand met inligting word versoek om adj.off. Phaladi Makola by 082 749 2233 of Crime Stop by 08600 10111 te kontak.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.