
Mnr. Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, het die nuwe tariewe vir die nasionale minimum loon in die Staatskoerant afgekondig.
Toe die nasionale minimum loon in 2018 ingestel is, is spesiale vergunning aan die landbousektor gegee om die loon oor twee jaar in te faseer. Die sektor se loon is aanvanklik vasgestel op 90% van die minimum loon, wat R20/uur was. Dit het beteken dat die sektor begin het met R18/uur of R3 150 per maand.
Me. Jahni de Villiers, arbeidsregkenner by Labour Amplified, sê dat huiswerkers en sekuriteitswagte op plase ook as plaaswerkers gesien word en dus ook die volle R21,69/uur betaal moet word. Die algemene minimum loon vir huiswerkers is R19,09/uur.
Impak op landbou
Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê die nuwe minimum loon veroorsaak ’n krisis. “ ’n Styging van 16% sal ’n aanslaaneffek hê en tot werksverliese lei.”
Die subsektore soos die produsente van wyn, vrugte en gars is gekniehalter deur die maande lange verbod op die verkoop van alkohol weens die Covid-19-inperkings. Daar was ook handelsbeperkinge op die verkoop van tabak, wol en ander verwante sektore.
“Die nasionale minimumloonkommissie sal ernstig oor sy rol en mandaat moet besin. Wil dit werk skep of is dit instrumenteel in die verslegting van die werkloosheidskrisis in Suid-Afrika?”
Die Covid-19-pandemie saai steeds verwoesting en werkloosheid styg. Van der Rheede sê om die 16%-verhoging goed te keur, maak daarom nie sin nie.
Hy sê boere in droogtegeteisterde gebiede beleef groot finansiële probleme, terwyl die volhoubaarheid van die Land Bank in gedrang is. Die departement van indiensneming en arbeid ondermyn ekonomiese groei en die bydrae van ’n sektor wat Suid-Afrika se ekonomie midde-in die pandemie aan die gang gehou het en wat primêr verantwoordelik was vir die handhawing van maatskaplike bestendigheid.
“As boere nie kos bekostigbaar kan produseer en landbouwerkers op groot skaal in diens gehou kan word nie, sal dit uitloop op ’n voedselkrisis en grootskaalse maatskaplike opstand as voedselonsekerheid en werkloosheid begin om wortel te skiet,” sê Van der Rheede.