
Die jongste sektorale vasstelling vir plaaswerkerlone sal R3 169,90 per maand wees, wat neerkom op R731,41 per week en R16,25 per uur.
Hierdie nuwe minimum loon sal egter net geld tot 30 April. Die rede daarvoor is dat Suid-Afrika se eerste nasionale minimum loon waarskynlik op 1 Mei in werking gaan tree.
Dit sal ’n tweede loonstyging vir die 2018-’19-boekjaar vir die landbousektor beteken. Die verpligte nasionale minimum loon sal R20 per uur of R3 500 per maand wees.
Kommer oor werksverliese
Om die landbou te help om werksverliese weens die instelling van die nasionale minimum loon te voorkom, sal die sektor se nasionale minimum loon begin met 90% (R18) van die verpligte R20 per uur of R3 500 per maand. Die nasionale minimum loon sal oor ’n tydperk van twee jaar ingefaseer word.
Hoewel die Regering hierdie versagting en die moontlikheid van kwytskelding as reddingsboeie vir die sektor bied, is daar steeds kommer rakende werksverliese. Die landboubedryf word steeds deur die droogte gewurg, terwyl dieresiektes uitvoer belemmer.
Die Konfederasie van Werkgewers (Cofesa) het al voorgestel dat ’n moratorium op die nasionale minimum loon ingestel moet word totdat die land se ekonomiese situasie verbeter het.
Daar word gevrees dat meer as 80 000 poste deur die loonverhoging geraak kan word.
Die wetsontwerp op die nasionale minimum loon, wat goedgekeur moet word vir dié loon om in werking te tree, is reeds by die Nasionale Vergadering ingedien. Dit word ook deur die Parlement se portefeuljekomitee vir arbeid bespreek met die hoop dat dit binnekort goedgekeur sal word