
Me. Janalize van Buuren, ’n direkteur van John Deere, sê boere sal moet byhou by die tegnologiese ontwikkeling om slimmer en volhoubaar te kan boer. “Hoewel daar baie landbougrond in Afrika beskikbaar is, sal Suid-Afrikaners slimmer te werk moet gaan om ’n hoër produksie uit die beskikbare hektare te bewerkstellig.”
Van Buuren was ’n spreker op die vierde gradeplegtigheid van die Peritum-landbou-instituut in Bloemfontein waar 90 studente hul nasionale diploma in dier- en plantproduksie ontvang het. Dit was die groep van 2018 en 2019 wat nou eers hul diplomas weens die Covid-19-beperkings kon ontvang.
Van Buuren sê landbouwerktuigvervaardigers is tans besig met onder meer die ontwikkeling van tegnologie wat verband hou met kunsmatige intelligensie en elektriese trekkers. Een van die nuutste tegnologietoepassings wat John Deere onlangs bekend gestel het, is See & Spray Select waarvolgens werktuie onkruiddoder outomaties selektief op gewasse toedien sonder om die hele land te bespuit.
Een van die topstudente wat ’n merietetoekenning ontvang het, is die 30-jarige mnr. Benza Motsoeneng, ’n plaaswerker van Elandshoek by Reitz.
Motsoeneng is ook uit tien benoemdes gekies om John Deere se tegnologiese vordering en werksaamhede eerstehands in Johannesburg te beleef. Benewens ’n trofee en prysgeld kom hy ook in aanmerking vir finansiering van die maatskappy.
’n Medewerker op dieselfde plaas, mnr. Simon Mngomezulu, het saam met Motsoeneng die dierkunde-diploma ontvang. Hul werkgewer, mnr. Wimpie van Rooy, het die twee sowat vier jaar gelede in diens geneem en het vir hul opleiding by Peritum betaal. Die twee moet nog twee modules afhandel vir hul plantproduksiekwalifikasie.