
’n Vragmotor wat na bewering plaaswerkers op die N4 naby Malelane in Mpumalanga vervoer het, het voor ’n trein by die Tulluh-spooroorgang beland. Altesame 19 mense is reeds dood verklaar, terwyl 24 ander ernstige beserings opgedoen het.
Luidens ’n berig op Nuus24.com sê mnr. Jeff Wicks, woordvoerder vir Netcare 911, die ongeluk het vanoggend (13 Julie 2012) omstreeks 07:00 plaasgevind.
30 mense oorlede
Mnr. Thulani Sibuyi, hoof van Oos-Mpumalanga se departement van gemeenskapsveiligheid, sê dit wil voorkom of die vragmotorbestuurder “nie mooi gekyk het” voor hy die oorgang oorgesteek het nie.
Volgens Sibuyi is 30 mense in die ongeluk dood. Die trein het die vragmotor getref en die voertuig is sowat ’n kilometer ver gesleep.
Reddingswerkers is op die toneel waar afgryslike tonele van slagoffers wat “uitmekaar geskeur” is glo voorkom.
Skandalig
Intussen sê Cosatu “dié tragedie ontbloot weer die skande dat werkers op oop vragmotors vervoer word. Hoe kan ons dit toelaat dat werkers in ’n land waar bestuurders en passasiers wettiglik verplig word om sitplekgordels te dra, vervoer word met absoluut geen beveiliging in geval van ’n ongeluk nie?”
Die vakbond vra dat wette strenger moet wees om te verseker dat elke mens wat vervoer word, beveilig moet wees voordat die voertuig op die pad toegelaat word. Verder word gevra dat alle oorgange by treinspore nagegaan word om seker te maak bestuurders weet van die gevaar wat voorlê.
Cosatu en die Demokratiese Alliansie (DA) vra dat die voorval deeglik ondersoek word, en dat dié wat aan oortredings skuldig bevind word, die ergste moontlike straf moet kry.
Bron: Nuus24.com