
Skoolvakansietye het me. Audrey September, die Wes-Kaapse Plaaswerker van die Jaar vir 2021, op die plaas Uitkyk, Noorder-Paarl, vir ekstra sakgeld gewerk. Dit is waar sy ’n passie vir die landbou ontwikkel het.
Sy is op ’n glansgeleentheid in Stellenbosch as die Wes-Kaapse Plaaswerker van die Jaar aangewys en het weggeloop met pryse ter waarde van bykans R100 000, wat ’n oorsese studietoer insluit.
Haar droom as kind was om ’n argitek te word. Tydens haar vakansiewerk op hoërskool het haar liefde vir die landbou so gegroei dat sy die sektor haar beroep gemaak het. Wat ook gehelp het met die besluit, is hoe gelukkig haar familie en voorouers was wat op die plaas gewerk het. Haar ouma, me. Maggie Meyer (72), werk steeds op dieselfde plaas en vier vanjaar 50 jaar diens by die JD Kirsten-groep waar tafeldruiwe verbou word.
September en haar man, Wilfred, is albei die derde generasie van hul families wat op die plaas werk. Sy vertel vir hulle is dit sommer ’n “familiebesigheid”, want baie familielede werk vir die groep. Hulle het ’n 16-jarige seun, Willique, en 9-jarige dogter, Anusca.
Haar ouers, me. Annelien en mnr. John Warries, was ook plaaswerkers.
September is ’n spanleier wat onder meer verantwoordelik is vir administrasie rakende die oes en is ook die gesondheids- en veiligheidsverteenwoordiger.
Toekoms vir jeug
Sy sê daar is baie geleenthede in die landbou vir jong mense. “Die landbou se werk raak nooit op nie. Ons vat elke jaar nuwe mense in, want ons het nie genoeg hande om alles te doen nie. En omdat mense kos moet kry om te eet, sal die landbou se werk nooit opraak nie.”
September sê jong mense moet onthou dat die landbou ’n uitkoms kan bied selfs vir diegene wat nie geld het om verder te studeer nie. Die landbou vra nie ’n graad, diploma of kwalifikasies nie. Dit vra net of jy bereid is om te werk en 100% te gee. Jy kan jouself opwerk. Jong mense moet net hul hande opsteek en sê “hier’s ek, ek’s bereid om te leer”, het sy benadruk.
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, sê die kompetisie erken die plaaswerkers in die provinsie se harde werk, en hul verbintenis tot en toewyding aan die sektor.
“Plaaswerkers speel ’n beduidende rol in die Wes-Kaapse ekonomie. Hul energie, kennis en kundigheid dra by tot voedselsekerheid, bring deur uitvoer buitelandse valuta in die land in en voorsien vir hul families.”
Streekwenners
Altesaam 642 werkers wat elf streke in die provinsie verteenwoordig, het vanjaar in elf kategorieë meegeding. Die streekwenners is mnre. Usokarl Lof (Bergrivier); Jafta Joseph (Witzenberg); Joseph Samuels (Stellenbosch); Enrico Cornelius (Tuinroete); Ruaan Ludick (Sentrale Karoo); Deon Samuels (Franschhoek); André Plaatjies (Hexvallei) en mme. Lee-Ann Barron (Piket Bo-Berg); Naomi Muller (Franschhoek); en Audrey September (Bergrivier). Me. Annita Maqashalala (Tuinroete) is as die plaaswerker met die beste potensiaal aangewys.
Mnr. Pieter van Zyl, hoofbestuurder van aanskaffing by Shoprite Freshmark, sê Shoprite is net een van die skakels in die landbouwaardeketting wat begin by die boorde of op die veld en op die bord by die huis eindig. Plaaswerkers is nie net die eerste skakel nie, maar ook die anker van die hele waardeketting. “Hul liefde en passie vir die landbou het my die meeste oor die afgelope jare opgeval.”