
Onwerkbaar. Dít is die reaksie op mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, se plan om grondplafonne vir boere in te stel.
“Dit is prakties onmoontlik om sulke plafonne in te stel in ’n landbousektor met groot verskille in mikroklimate en waar meer as 90% van produsente daarom gemengde boerderye het – behalwe as die plafonne só hoog is dat hulle nie bindend is nie,” sê prof. Nick Vink, voorsitter van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch.
Perke vir grondbesit is reeds in die Groenskrif voorgestel. Volgens mnr. Japie Grobler, voorsitter van die eenheidsforum in landbou, Asuf, was daar ná byna twee jaar van raadpleging en onderhandelinge binne die nasionale verwysingsgroep vir die grondhervormingsproses geen steun vir die beginsel nie.
Tog lyk dit asof Nkwinti se hoofdoel met die pas afgelope beraad oor verblyfsekerheid was om goedkeuring daarvoor te kry.
Mnr. Andrew Makenete, landbou-ekonoom, sê grondplafonne sal uiters deeglik ondersoek moet word. “Die voor- en nadele is nie so voor die hand liggend nie. Die administratiewe koste van so-iets is redelik belemmerend. ’n Mens moet dié koste opweeg teen die moontlike voordele wat dit kan inhou.”
Makenete en sy mede-landbou-ekonoom prof. Herman van Schalkwyk, rektor van die PUK-kampus van die Noordwes-Universiteit, het in 2012 in opdrag van Nkwinti 'n studie oor grondplafonne gedoen.
Agri SA het nog deurgaans gesê grondplafonne is onwerkbaar, sê mnr. Johannes Möller, voorsitter.
In die Groenskrif-proses is telkens daarop gewys dat dit sal baie duur en moeilik sal wees om te administreer, en dat verskillende soorte boerderye heeltemal verskillende behoeftes rakende grondgrootte het.
“Dit is tyd dat die Regering ophou om duur, onwerkbare planne uit te dink en miljoene te bestee op berade waar geen ware raadpleging plaasvind nie,” het Möller gesê. (Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming het sowat 2 500 mense na dié beraad in Boksburg genooi.)
“Die minister moet besef dat aspekte, soos grondplafonne, kwalik deur enige ekonomiese berekeninge ondersteun kan word.”
Werkbare modelle vir grondhervorming sal by Agri SA se kongres in Oktober voorgelê word.
Beraad se besluit:
* Die hoeveelheid landbougrond wat ’n mens mag besit, moet beperk word. Die voorstel is dat dit 4 000 ha vir kleinskaalse boere moet wees, tussen 4 000 ha en 8 000 ha vir mediumgrootte boere, en tussen 8 000 ha en 12 000 ha vir groot boere.
* Boere sal verplig wees om grond óór die perk aan die staat te verkoop.
* Die staat wil hierdie grond herverdeel en aan plaaswerkers voorrang gee.
* Plaaswerkers sal vyf jaar staatsteun kry. Indien hulle presteer, sal hulle die grond kan koop of ’n langtermynhuurkontrak van minstens 30 jaar kan sluit.