Die hersiende plan vir landelike veiligheid, wat die platteland tot ’n voorrangsaak verklaar, is “amper klaar”, sê die Ministerie van Polisie.
Luidens ’n berig op News24.com sê mnr. Zweli Mnisi, woordvoerder, een van die sleutelaspekte is om dienslewering by polisiekantore op die platteland te verbeter.
“Ons wil polisiesigbaarheid en reaksietye van die polisie in landelike gebiede verbeter, asook verhoudings tussen die polisie, boerderygemeenskappe en die breë landelike gemeenskappe,” aldus Mnisi.
Mnisi het Dinsdag (13 Maart 2012) ’n mediaverklaring in dié verband uitgereik. Die Polisie, spesifiek mnr. Nathi Mthethwa, die Minister van Polisie, en gen.-maj. Nhlanhla Sibusiso Mkhwanazi, waarnemende Polisiekommissaris, het Dinsdag onder kritiek deurgeloop omdat hulle nie by ’n vergadering met die TLU SA opgedaag het nie.
Die TLU SA het op die vergadering weer gesê dat plaasaanvalle tot ’n voorrangmisdaad verklaar moet word.
Mnr. Chris van Zyl, asisstent-hoofbestuurder, sê plaasaanvalle en -moorde is nie net traumaties nie, maar bedreig ook voedselsekerheid.
Volgens Van Zyl verskaf een boer voedsel aan sowat 1 600 mense, of selfs meer, in dié land.
Bron: News24.com
14 Maart 2012