Die skade wat rondloperhonde onder vee veroorsaak, gaan op ’n nasionale vlak bespreek word.
Besonderhede van die plan om plaaslike owerhede te oortuig om méér te doen om die probleem te bestry, is op die Oos-Kaapse RPO-kongres op Cradock bekend gemaak.
Mnr. John Forbes, wie se plaas aan die Tembisa-township by Burgersdorp grens en wat die inisiatief van stapel gestuur het, het die afgelope twee jaar altesame 240 skape verloor wat deur honde aangeval is.
In die distrik Jamestown is 209 skape van tien boere sedert 2009 deur honde doodgebyt en hul skade beloop reeds meer as R220 000.
Wetgewing nie toegepas
“Daar bestaan reeds wetgewing om honde te beheer – die probleem is dat dit nié deurlopend deur die munisipale owerhede toegepas word nie,” het Forbes gesê.
Hy meen as die uitneem van hondelisensies afgedwing word, die inkomste daaruit nie net ’n bykomende bron van inkomste vir plaaslike owerhede kan wees nie, maar ook sal help om die eienaars wie se honde die vee vermink te identifiseer.
Boere wie se vee deur honde aangeval word, is gevra om die inligting met foto’s aan attacks@dogattacks.co.za te e-pos. Die inligting sal dan op die webtuiste www.dogattacks.co.za oorgeplaas word.
27 September 2011