
Boerdery in Afrika blyk stadig maar seker van klein plasies na groter plase te beweeg. Prof. Ferdi Meyer, direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), sê dit is een van die belangrike groot neigings op die vasteland en ook in Afrika suid van die Sahara.
Hy het by die Farmers Weekly Agribusiness Africa-konferensie gesê in Zambië is die meeste landbougrond onder mediumgrootte boerdery (5 ha – 100 ha) en daar is nou ewe veel grond onder grootskaalse boerdery (groter as 100 ha) as onder kleinskaalse boerdery (tot 5 ha).
Hier het mielieproduksie van ’n tekort tien jaar gelede, beweeg na ’n oorskot en is daar nou sowat 800 000 ha meer onder produksie. “Hulle produseer meer deurlopend, en ook gemaklik, oorskotte.” In Ghana word die meeste grond nog deur klein boere verbou, maar mediumgrootte boere is besig om hul in te haal.
As deel van dié neiging van veranderende plaasstrukture sê Meyer daar is in verskeie lande pogings om grondbesit van gewoontereg-verblyfsekerheid na private individue oor te dra. Dit hou verband met veranderinge in die mark vir grond soos wat grondverkope en huurmarkte vinnig ontwikkel. Meyer sê dié ontwikkelings bied geleenthede vir belegging in die landbou in Afrika.
Pryse
Die afwaartse neiging in globale voedsel- en energiepryse is 'n ander belangrike groot neiging wat in landbou in Afrika suid van die Sahara gaan speel, sê hy. Voorheen was daar goeie reële prysstygings danksy ekonomiese groei in lande soos China en Indië.
Die gebied onder produksie is egter wêreldwyd vergroot en met groot globale oorskotte en voorraad het die prentjie nou heeltemal verander, het Meyer gesê. Landbou moet homself afvra hoe hy die komende siklus van laer pryse gaan hanteer.
Meer werk in stad
Syfers wys intussen die landbou se rol as groot verskaffer van werk op die vasteland is besig om te verklein, vergeleke met geleenthede in ander sektore. Meyer het syfers gewys waarvolgens die landbou in Malawi in 1999 vir 73% van werkgeleenthede gesorg het, maar in 2008 vir 54%, en in Zambië het die persentasie in dieselfde tyd van 75% na 60% gedaal.
In Ghana het dit van 52% in 2005/’06 na 44% in 2012/’13 gedaal. Die neiging is egter nie dieselfde in alle lande nie – in Nigerië verteenwoordig werkgeleenthede in landbou 'n groeiende persentasie. Meyer het gesê stedelike gebiede groei wel vinnig, maar in Afrika, insluitend suid van die Sahara, groei plattelandse bevolkings ook vinnig en word nóg groei verwag.
Die vyf ander groot neigings wat die landbou volgens Meyer in die streek gaan raak, is die gebruik van tegnologie, Afrika se bevolkingsontploffing, grondagteruitgang en klimaatsverandering.