Die aantal mense wat op plase in diens geneem word, het tussen 1993 en 2007 met 27,1% afgeneem, sê die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge.
Luidens ‘n berig op iafrica.com het die instituut, Woensdag (26 Januarie 2011) bekend gemaak dat die aantal mense wat op plase werk in dié tydperk van 1,1 miljoen na 796 806 gedaal het.
Volgens die studie is dieselfde neiging ook in die aantal plase in die land aangeteken, met ‘n vermindering van 57 987 plase in 1993 na 39 982 plase in 2007.
Verhoogde meganisasie
Mnr. Marius Roodt, ‘n navorser by die instituut, sê: "Dit is moontlik dat daar ‘n toename in die meganisasie van plase is wat lei tot ‘n afname in die aantal plaaswerkers.”
Die samesmelting van plase speel ook moontlik ‘n rol. Luidens die verslag het al die provinsies in die land, buiten Gauteng, ‘n afname aangeteken.
Tydens die ooreenstemmende tydperk het die aantal plaaswerkers in Mpumalanga met 45% gedaal, en in die Vrystaat en KwaZulu-Natal het plaaswerkergetalle met 39% gedaal.
Daarteenoor het die getal plase in alle provinsies afgeneem, met die grootste daling (47%) in Limpopo. Die hoeveelheid plase in dié provinsie het van 5 053 in 1993 na 2 657 in 2007 verminder.
Bron: IAfrica
27 Januarie 2011