Dit is ’n voorrangsaak vir die Suid-Afrikaanse bedryf om sy uitvoermark te laat groei, en hy werk baie hard daaraan om versperrings te oorkom, sê mnr. Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die braaihoenderorganisasie van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV).
Hy het op ’n mediakonferensie van die SAPV gesê daar is minstens vyf plaaslike maatskappye wat daarin belang stel om dié hoenderprodukte na die EU uit te voer.
“Dis ’n moeilike en uitmergelende proses om ’n uitvoermandaat spesifiek van die EU te verkry. Ons is al geruime tyd daarmee besig. Ons het ’n spertyd ingestel waarvolgens ons verwag dat dit teen die einde van die jaar moontlik sal wees om na die EU uit te voer.