
Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV), wat die hulp koördineer, sê hy beskou klein, mediumgroot en mikro-ondernemings (KMMO’s) as ’n belangrike deel van die waardeketting vir hoenderverspreiding.
“Ons het ’n lys van sowat 670 KMMO’s en lig hulle tydens die inperking in hoe regulasies hul sake raak. Uit die daling in die vraag na dagoudkuikens en voer was dit vir ons duidelik dat groot getalle van dié klein ondernemings weens die inperking ophou boer het,” sê mnr. Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die SAPV se braaihoenderorganisasie, in ’n verklaring.
“Ons vergemaklik kommunikasie tussen KMMO’s en owerhede oor aansoeke om handelspermitte of probleme wat weens die inwerkingstelling of interpretasie van die inperkingsregulasies ontstaan het.”
Informele handelaars kon aanvanklik nie lewende hoenders verkoop nie.
Die SAPV het die kwessie met owerhede opgeneem omdat dié handelaars volgens Breitenbach duisende lewende hoenders verkoop, wat die belangrikste bron van voedselproteïen vir arm gemeenskappe is.
Sowat 1 miljoen teelhoenders wat die einde van hul produktiewe lewe bereik, word maandeliks na dié informele markte gebring. Die oophou van dié kanale beteken dat meer mense toegang tot voedsel het.
Die SAPV het KMMO’s ingelig dat die betrokke regulasie verander het, hoe hulle om handelspermitte moet aansoek doen, en oor die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se finansiële bystand.
Hoenderprodusente landwyd het benewens die hoenderprodukte wat hulle aan arm gemeenskappe naby hul bedrywighede en skuilings vir haweloses geskenk het, ook handreiniger verskaf aan informele handelaars en taxibestuurders in die gemeenskappe waar hulle bedrywig is.
Breitenbach sê die bedryf se hoofvoorrangsaak is om sy werkmag gesond te hou en te verseker dat hy alles moontlik doen om voedselsekerheid vir Suid-Afrika te verseker.