‘n Peperduur Volbloed-teelhings van ‘n Britse bloedlyn was byna bokveld toe nadat ‘n pofadder hom op die Gelykfontein-stoetery naby Venterstad gepik het.
Luidens ‘n berig in Volksblad het die perd Ecomium se eienaar hom oor die naweek glo net betyds by ‘n veearts op Colesberg gekry het.
Die perd, wie se pa tot verlede jaar die kampioenteelhings in Brittanje en Ierland was, is miljoene rande werd. Mnr. Schalk van der Walt, eienaar van die perdestoetery en veeplaas Gelykfontein, Venterstad, is vroeg Saterdagoggend, 18 Februarie, deur mnr. Fuzile Ndabeni, sy stalhulp, geroep. Ndabeni het die pofadder op ‘n krip in Econium se stal sien lê.
Van der Walt en Ndabeni het saam die slang doodgemaak, waarna Van der Walt opgemerk het dat Econium se regtervoorbeen geswel was. Die twee gaatjies van die slangbyt was sigbaar, en Van der Walt het onmiddellik met die perd Colesberg toe gejaag. Dr. Charmaine Rous, ‘n veearts, het Econium behandel met slangserum en aarvoeding.
Dit is nie duidelik hoe die pofadder die stal binnegekom het nie. Van der Walt vermoed dat die slang die vorige dag, terwyl Econium uitgeneem is vir sy daaglikse oefening, ingeseil en toe in die strooi geskuil het. Die perd is terug op die plaas en sal tot Woensdag vir die slangbyt behandel word.
Econium is 11 jaar oud, en hy is vyf jaar gelede teen die prys van 600 000 Euro (R6 miljoen) ingevoer.
Bron: Volksblad
Bekyk ook Johan Marias se webwerf oor slange in Suid-Afrika.
20 Februarie 2012