
Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê die polisie het gemobiliseer nadat inligting oor die aanval ontvang is. Toe die polisie op die toneel kom, was daar drie bakkies gelaai met 19 skape en 4 bokke, altesaam R40 000 werd.
’n Jaagtog het gevolg waartydens een van die verdagtes se bakkies in ’n ongeluk betrokke was. Die ander twee bakkies is agtergelaat. Al die verdagtes het van die toneel gevlug. Die polisie het die bakkies deursoek en twee vuurwapens gevind.
Volgens die eienaar van die plaas was hy aan die slaap toe hy ’n skoot buite gehoor het. Voordat hy tot verhaal kon kom, het hy ’n harde slag teen sy huis se deur gehoor. Die gewapende verdagtes het die huis binnegekom en twee selfone gesteel.
Aangesien die bakkies op die toneel agtergelaat is, kon die polisie beslag lê op die verdagtes se vuurwapens en die gesteelde vee. Die polisie probeer vasstel aan wie die bakkies behoort.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.