
Die provinsiale polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, genl. Mmamonnye Ngobeni, is vol vertroue dat die huidige misdaadvoorkoming-strategie van die polisie in dié provinsie voldoende is.
Dit volg ná die inhegtenisneming van 41 verdagtes op aanklagte van veediefstal en die versuim om vee te brandmerk volgens die voorskrifte van die Wet op Diere-identifisering.
Vanaf 22 Junie tot 2 Julie het die polisie in KZN klopjagte uitgevoer in die landelike gebiede in die noorde van die provinsie. Volgens ’n verklaring is 29 vermoedelik gesteelde beeste, vier skape en 46 bokke teruggevind.
“In samewerking met veeboere sal ons onverpoos voortgaan om landelike veediewe vas te trek. Ons moedig egter veeboere aan om hul diere voldoende te brandmerk vir vinnige identifikasie en ook om alles in die stryd te werp om hul diere veilig te hou,” sê Ngobeni.
Mnr. Koos Marais, bestuurder van Kwanalu se sekuriteitskantoor, is ingenome met die inhegtenisnemings, maar meen veediefstal in KZN is steeds ’n enorme probleem. “Die diefstal van opkomende boere se vee is ’n groot probleem, nie net vir die eienaars nie, maar ook vir die polisie. Vee is nie altyd gemerk nie en die gebiede waar die diere wei, is enorm. Dit plaas ’n groot werklas op die polisie om hierdie sake te ondersoek en dikwels is dit diere wat weggedwaal het en nooit gesteel was nie. Met die drie buitelandse grense aan KZN, naamlik Mosambiek, Lesotho en Swaziland, maak dit die bekamping van veediefstal nóg moeiliker, veral waar sindikate betrokke is. Nietemin is dit verblydend om te sien die polisie is paraat en tree op,” verduidelik Marais.
Die verdagtes het almal reeds in verskeie howe, waaronder Glencoe, Dannhauser, Charlestown, Ekuvukeni, Elandslaagte en Ezakheni verskyn en is aangekla van veediefstal, die versuim om vee te brandmerk en die besit van dagga.