
Die operasie in die Waterberg-distrik is vanaf middernag uitgevoer nadat lede van Mokopane-misdaadintelligensie en die Tinmyne-misdaadvoorkomingseenheid inligting ontvang het oor vee wat by ’n woning in Ga-Madiba in die Mahwalereng-polisiedistrik aangehou is.
Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle ’n 36-jarige man gevind wat beweer het dat die lewende hawe aan sy broer, wat nie daar was nie, behoort.
Die bewoner van die huis is nie in hegtenis geneem nie en daar is later op die lewende hawe beslag gelê. Die diere is na die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Mokopane geneem.
Die polisie vra enigeen wat lewende hawe verloor het, om na die DBV te gaan vir moontlike identifisering van die diere, kapt. Lucky Ramashala, ondersoekbeampte, te kontak by sel. 082 371 8117, die stopmisdaadnommer te bel by tel. 086 001 0111 of die naaste polisiekantoor te kontak.
Die polisie-ondersoek duur voort om die oorsprong van die diere na te speur.