
Hulle is onder die ses verdagtes wat Dinsdagaand in hegtenis geneem is kort nadat hulle ‘n plaas beroof het.
Drie polisiebeamptes is na bewering onder die ses verdagtes is wat Dinsdagaand in hegtenis geneem is kort nadat hulle 'n boer en sy vrou met vuurwapens in die distrik Swartberg/Franklin in KwaZulu-Natal beroof het. ’n Anonieme bron na aan die ondersoek het bevestig dat dié boer dieselfde mnr. Shaun Muir van plaas Newlands is wat ternouernood ontkom het nadat dieselfde verdagtes hom verlede week probeer beroof het.
Soos voorheen berig deur Landbou.com, het die verdagtes in die oorspronklike poging tot roof van die Muirs hulle voorgedoen as polisiebeamptes wat beweer het dat hulle 'n saak van geldwassery ondersoek. Die verdagtes het beweer dat hulle 'n lasbrief het wat hulle toegang tot die Muirs se huis gee, maar hulle het geweier om dié lasbrief of hul name en amptelike polisie-identifikasie aan die Muirs te verskaf. Die verdagtes het van die toneel gevlug nadat bure wat 'n veiligheidsbystandkennisgewing van die Muirs ontvang het, skielik opgedaag het.
Mnr. Freddie van Tonder, die KwaZulu-Natalse Landbou-unie se veiligheidshoof, het aan Landbou.com gesê nadat die verdagtes die Muirs vandeesweek Dinsdagaand beroof het, het hulle gevlug in 'n voertuig wat deur private sekuriteitskameras langs sy roete opgemerk is. Die polisie en private sekuriteitsmaatskappye het hierdie inligting gebruik om die verdagtes te volg en uiteindelik te konfronteer. Nadat hulle glo op hul agtervolgers geskiet het, is al die verdagtes in hegtenis geneem en dit het daarna geblyk dat drie van hulle polisiebeamptes is.
“ 'n Brigadier staan aan die hoof van hierdie ondersoek. Ek is tevrede dat hierdie saak die aandag kry wat dit vereis,” sê Van Tonder.
Die anonieme bron na aan die ondersoek sê daar word vermoed dat 'n persoon of persone met binne-inligting rakende geld, waardevolle items en vuurwapens wat aan die Muirs behoort, hierdie inligting aan die verdagtes verskaf het. Hierdie verdagtes was skynbaar vasbeslote om hierdie inligting te gebruik, aangesien hulle luidens 'n verklaring deur die polisiehoofkantoor in KwaZulu-Natal dieselfde verdagtes is wat 'n bietjie meer as 'n week gelede onsuksesvol probeer het om die Muirs te beroof.
Daar is glo nog geen inligting wat aandui of die verdagtes wat in hegtenis geneem is, hulle ook as polisiebeamptes voorgedoen het met onlangse gewapende rooftogte op ander plase in die distrikte Port Shepstone en Kokstad in KwaZulu-Natal en die distrik Addo in die Oos-Kaap.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.