
Die Land Bank en die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het die skema en sy kwalifiseringsvereistes op 24 Oktober buite Centurion bekend gestel.
Me. Elder Mtshiza, hoofdirekteur van die departement se omvattende landbou-ondersteuningsprogram Casp, het gesê vir politici en amptenare geld “afkoelperiodes” van onderskeidelik 12 en 24 maande voordat hulle kan aansoek doen om sulke finansiering.
Die gemengde finansiering sal meer bekostigbare finansiering aan swart produsente bied omdat die helfte van die bedrag uit ’n nie-terugbetaalbare staatstoekenning sal bestaan en die ander helfte ’n lening by die bank sal wees.
Benewens politici en staatsamptenare is die ander mense wat uitgesluit word onder andere:
- Buitelanders en onwettige immigrante;
- Deeltydse produsente;
- Polities blootgestelde mense;
- Produsente in finansiële nood wat die toekenning nodig het om skuld te betaal;
- Gesamentlike ondernemings waar plaaswerkers nie betrokke is by die bestuur van die bedrywighede nie, en
- Aansoekers wat nie voorsiening maak daarvoor dat plaaswerkers in die wins van die onderneming deel nie.
Die volgende is van die kwalifiserende vereistes:
- Kommersieel haalbare boerdery-ondernemings in swart besit en bestuur, in die bedrywe wat voorkeur geniet in die meesterplan vir die landbou en landbouverwerking;
- Gesamentlike ondernemings waar die nie-swart vennoot hoogstens 40% en minstens 26% besit;
- Ondernemings met 10%-winsdeling vir plaaswerkers;
- Jong mense, vroue, mense met gestremdhede en militêre veterane; en
- Kwalifiserende aansoekers van 60 jaar of ouer mits hul bewyse van opvolgers kan lewer.
Die gemengde finansiering is bedoel om gebruik te word vir:
- Die koop van primêre landbougrond en/of kommersieel haalbare ondernemings in die landbouwaardeketting;
- Die ondersteuning van bestaande bedrywighede op private of grondhervormingsplase om te kan uitbrei;
- Die begin van nuwe bedrywighede;
- Die koop van kapitaaltoerusting en -infrastruktuur;
- Bedryfskapitaal en/of ’n produksielening; en
- Versekeringspoelvoorsiening vir die subsidiëring van versekeringsdekking vir toepaslike boere.
Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het met die bekendstelling van die skema gesê die departement verbind hom daartoe vir 10 jaar en sal oor die dekade minstens R3,2 miljard daarin belê.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.