Die sementmaatskappy, Pretoria Portland Cement (PPC), het ’n hidroliese tonnel aan ’n agentskap in Saldanha geskenk as deel van ’n werkskeppingsprojek. Luidens ’n verklaring sal die projek werk aan ses lede van die Weskus-ontwikkelingsagentskap verskaf en hulle help om hulself in die landbou in die gebied te vestig.
Die tonnel wat die maatskappy verskaf het, is die agentskap se tweede tonnel en dit word gebruik om Engelse komkommers te verbou. Die skenking sluit die infrastruktuur, toerusting, pompe en verbouingsmateriaal in.
Hidroponiese verbouing is ’n metode wat gebruik word om gewasse sonder grond te kweek, en ook om watergebruik te optimaliseer deur die water te hergebruik.
“Ons is verheug ’n volhoubare bydrae te kan lewer waardeur betekenisvolle werksgeleenthede in Saldanha geskep kan word,” sê Johan Vorster, die hoofbestuurder van PPC Saldanha.
Opleiding
Die lede wat by die tonnels betrokke is, is opgelei om verskeie gewasse in die tonnels te verbou. Die eerste komkommers is reeds geplant en sal binnekort geoes word. Die lede het op dié gewas besluit vanweë die gewas se volhoubaarheid en vinnige ontkieming.
In die ander hidroponies tonnel word klein tamaties verbou. Die opbrengste van albei tonnels sal in Saldanha en omgewing verkoop word.
5 April 2011