
Só sê mnr. David Maynier, Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, na aanleiding van Ramaphosa se breedvoerige besprekings van kwessies by Durbanhawe in sy weeklikse nuusbrief.
Ramaphosa het dié hawe, wat eens as die beste hawe in Afrika beskou is, verlede week besoek om self te sien watter werk daar gedoen moet word. In sy nuusbrief sê Ramaphosa dat die Suid-Afrikaanse ekonomie kan ly as die hawens nie doeltreffend funksioneer nie, maar dat hulle die potensiaal het om ekonomiese groei te bevorder.
Ramaphosa noem verder dat die Durbanhawe se bestuur “ambisieuse” uitbreidingsplanne vir die hawe het wat R100 miljard in nuwe beleggings oor die volgende dekade of langer sal vereis. Nuwe verhoudinge met die private sektor sal bewerkstellig word om dit te verseker.
Maynier sê sy departement het al die probleme by Kaapstadhawe skriftelik aan Ramaphosa uitgewys en versoek dat hy die hawe moet besoek sodat die probleme en die maatreëls wat getref is om dit aan te pak, te beoordeel.
“Kaapstadhawe is ’n belangrike infrastruktuurbate. As dit tot sy volle potensiaal benut word, kan dit as ’n katalisator vir ekonomiese groei en herstel vir Suid-Afrika dien. Dit word deur verskeie probleme in die gesig gestaar, hoofsaaklik weens onvoldoende onderhoud van en belegging in toerusting.”
Volgens Maynier was daar gedurende die 2020-’21-boekjaar 5 064 gevalle van toerusting wat gebreek het gedurende al drie skofte by Kaapstadhawe. Dit is gemiddeld 14 gevalle per dag. “Elke keer as iets breek, is daar bedryfsvertragings wat weer ’n uitkringeffek op die hele hawevoorsieningsketting het. Die grootste kwessie wat stadige dienslewering veroorsaak het, is dat sommige skeepsagentskappe Kaapstadhawe nie meer gebruik nie.”
Maynier sê die Wes-Kaapse regering het ’n hawetaakspan op die been gebring sodat belanghebbendes van reg oor die hawe se logistieke waardeketting oplossings vir die probleme by Kaapstadhawe kan vind. “Hoewel hierdie taakspan reeds ’n aantal suksesse behaal het, hoofsaaklik met belegging in infrastruktuur, is daar min wat hierdie groep kan doen sonder die nasionale regering se betrokkenheid.
“Die groei van uitvoer is ’n belangrike gedeelte van ons strategie vir ekonomiese groei en herstel, maar om dié doelwit te bereik, moet ons ’n hawe van wêreldgehalte in Kaapstad hê.
“Ons geniet die steun van al die belanghebbendes in die hawe se logistieke voorsieningsketting, wat die bestuur by Transnet se haweterminale insluit, maar ons vermoë om uitvoer te laat toeneem, sal beperk bly as ons nie dringend die probleme met infrastruktuur by Kaapstadhawe aanpak nie.”