
Só het dr. Kgosientsho Ramokgopa, hoof van die kantoor vir belegging en infrastruktuur in die presidensie, gesê op Agbiz se kongres by Sun City in Noordwes. Die kongres gister (Donderdag) en vandag (Vrydag) word deur ’n rekordgetal van meer as 350 afgevaardigdes bygewoon.
Die presidensie het met die mynwese vergader oor samewerking, nadat myne in die Noord-Kaap gekla het dat die gebrek aan water ’n probleem is vir hul voortbestaan. Danksy die gesprekke is ’n spesialedoelwit-onderneming gevorm waardeur myne 57% van ’n waterprojek gefinansier het en die staat 43%.
Nog ’n waterprojek saam met die mynbedryf word nou Limpopo aangepak.
Kgosientsho het gesê die bloudruk vir samewerking bestaan dus reeds. Hy het die landbou genooi om paaie te identifiseer wat agteruitgegaan het, en waar die twee partye saam kan belê.
Die presidensie het ’n infrastruktuurfonds van R100 miljard waarmee hy toekennings kan gee aan kommersieel haalbare projekte. “Daar kom baie min projekte uit die landbou,” het hy gesê.
Die presidensie het ook R17,5 miljard om projekte oor die volgende drie jaar te finansier sonder bydraes deur die private sektor, vir enige soort grootmaatinfrastruktuur wat nodig is, soos belangrike hoofroetes.
Ramokgopa het gesê sy kantoor wil ook met die landbou praat oor hernubare kragprojekte.
Rakende die verval van infrastruktuur het hy na die gebrek aan ingenieurs en beplanningsvaardighede by munisipaliteite verwys, wat daartoe lei dat geld wat munisipaliteite ontvang, dikwels nie bestee word nie, of, in van die slegste gevalle, op salarisse bestee word.
“Ons het nie ’n geldprobleem nie, maar ’n bestedingsprobleem.”
Pad- en spoorvervoer, hawens
Die regering se nasionale infrastruktuurplan (NIP 2050), wat in Maart vanjaar in die Staatskoerant gepubliseer is, is toegespits op die grondliggende netwerkinfrastruktuur vir energie, vrag, vervoer, water en digitale kommunikasie.
Ramokgopa sê die voorgestelde hervormings behels dat die verhouding van 80% van goedere wat padlangs vervoer word en 20% per spoor, omgekeer word, veral vir langer afstande. Transnet is besig met veranderinge sodat private operateurs in die toekoms op ’n konsessiegrondslag sy spoorlyne kan gebruik.
Die regering wil ses grensposte deur middel van gemengde finansiering saam met die private sektor verbeter om vertragings te voorkom.
’n Onafhanklike nasionale hawe-owerheid, waar die private sektor ook betrokke kan raak, word geskep.
Verder word sogenoemde lewensiklusbeplanning vir alle infrastruktuur bekend gestel, om onder meer seker te maak dat ’n sekere persentasie van die geld altyd gebruik word vir onderhoud.
Ramokgopa het gesê ’n beleid vir watergebruik in die landbou is bykans voltooi, sodat die tariefstruktuur vir water boere sal aanspoor om voort te gaan met produksie, sonder om die staat se vermoë te ondermyn om water aan armer gemeenskappe te lewer. Hy het nie verder hieroor uitgebrei nie.