
Pres. Cyril Ramaphosa het gisteraand vanjaar se staatsrede in die Kaapstad-stadsaal gelewer tydens ’n geleentheid wat na beraming R8 miljoen gekos het. Inwoners in groot gedeeltes van Suid-Afrika kon weens beurtkrag nie die staatsrede volg nie.
“Hoekom moet ons jou storietjies hierdie keer glo, meneer die president? Dis nou amper 30 jaar dat die ANC mooi beloftes maak, maar net eenvoudig nie die vermoë het om dit tot uitvoer te bring nie. Wat gaan dié jaar anders wees?”
Die staatsrede het gepaard gegaan met die gebruiklike chaos nadat die EFF probeer het om die toespraak te ontwrig en uiteindelik deur die parlement se veiligheidspersoneel uit die stadsaal geneem is.
“Die chaos wat die staatsrede voorafgegaan het, het vele Suid-Afrikaners hul koppe in skaamte laat sak, terwyl beleggers reg oor die wêreld hierdie prentjie moes aanskou.”
Krag en werkloosheid
Ramaphosa het in sy toespraak gesê dat die energiekrisis meer aandag sal geniet sodat beurtkrag beëindig kan word. Hy het aangekondig dat ’n departement van elektrisiteit op die been gebring sal word.
Van Zyl sê hopelik sal praktiese oplossings gevind word vir ononderbroke kragvoorsiening met die moontlikheid om besproeiingsboere van beurtkrag vry te stel. Die enigste werklike gunstige punt is dat individue ’n belastingvoordeel sal ontvang om sonpanele te installeer. TLU SA hou die vordering hieroor met groot afwagting dop.
Werkloosheid is telkens gedurende Ramaphosa se toespraak genoem. “Ons het ’n paar keer gehoor dat werkloosheid sal afneem wanneer die ekonomie groei. Werk gaan onder meer geskep word deur geld op nuwe tegnologie en nuwe nywerhede te bestee en duisende meer gegradueerdes die werksmag in te stuur. Werknemers word nou gevra word om ervaring as voorvereiste vir aanstellings te laat vaar.
“In dieselfde asem word maatskaplike toelae egter nie net langer ingestel nie, maar ook verhoog. Hiermee moedig die regering eerder werkloosheid aan as om dit te laat afneem,” meen Van Zyl.
Die belangrikheid van watervoorsiening is ook uitgelig en Ramaphosa het aangedui dat die aansoeke vir waterlisensies tot 90 dae verkort sal word.
“Die belofte is om in infrastruktuur soos waterprojekte te belê om water reg oor Suid-Afrika vir almal beskikbaar te stel met die klem op landelike gebiede en gemeenskappe. TLU SA verwelkom die feit dat aandag aan watervoorsiening gegee wil word en hoop dat boere landwyd daarby sal baat vind.”
Landbou weer nie ’n prioriteit
Ramaphosa het ook tydens sy toespraak hoëspoed-internet vir almal, verbeterde spoorweë en hawens, en selfs aandag aan die klerebedryf beloof. Dit is volgens Van Zyl egter uiters teleurstellend dat die landbou en voedselsekerheid as sodanig nie as prioriteit uitgelig is nie.
“Ons het wel gehoor dat beurtkrag ’n nadelige uitwerking op die landbou het en dat kleinboere, wat slegs sowat 3% van voedselvoorsiening uitmaak, ’n goeie hupstoot sal kry, en dat sogenoemde tradisionele boere gehelp gaan word om dagga te verbou om op só ’n wyse werk te skep.
“Daar is geen melding van plaasaanvalle gemaak nie, wat weer bewys dat dit geensins as ’n probleem gesien word nie.” sê Van Zyl.
“Ons het ook gehoor dat Suid-Afrika ’n beleidsomgewing moet skep wat beleggers se vertroue herwin en waarin entrepreneurs goeie besigheid kan doen.”
Van Zyl meen die sukses van die koers wat Ramaphosa tydens die staatsrede aangedui het, hang af van die kabinet se vermoë om dit uit te voer – ’n kabinet met ministers wat nie hul portefeuljes na behore kan bestuur nie.
“Hoe kan ministers wat tot dusver nie probleme kon oplos nie, nou skielik nuwe beloftes nakom? Tot dusver het ons nog nooit by kabinetslede ervaar dat hulle aanspreeklikheid aanvaar nie. Indien dit nie gaan gebeur nie, bly die kabinet deel van die probleem. Ons weet dat vinnige, doeltreffende en uitvoerbare besluite nie deel is van die ANC se DNS nie.
“ ’n Mooi staatsrede vol blink beloftes sonder ’n kundige en doeltreffende kabinet sal Suid-Afrika maar net verder op ’n stink glybaan na mislukkings op vele terreine laat voortploeter.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.