Die Probleemdierbestuursforum (PMF) het kapsie gemaak teen die voorstelle wat vervat word in die dokument “Norme en Standaarde vir die Bestuur van Skadeveroorsakende Diere” wat teen einde verlede jaar vir kommentaar aan belangegroepe voorgelê is.
Mnr. Petrus de Wet, voorsitter van die forum, sê die PMF is nie gelukkig met die konsultasieproses wat gevolg is nie.
“Dit wil lyk asof die PMF (wat die rooivleis-, wol-, sybokhaar- en wildbedryf met sowat 60 000 lede verteenwoordig en jaarliks sowat R13 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie bydra) se herhaalde versoeke geïgnoreer is om die proses te beëindig. Dit lyk asof dit grootliks ten gunste van diereregte-aktiviste gedoen is.
Lees ook:
Probleemdiere 'kan kleinvee uitwis'
“Die voorstelle ná ’n uitgebreide besoek aan Amerika oor hoe dié land skadeveroorsakende diere bestuur, is nie in die dokument vervat wat vir kommentaar voorgelê is nie. Daar is ook nie ag geslaan op die feit dat die bedrywe wat deur die voorgestelde wetgewing geraak gaan word, jaarliks sowat R4,5 miljard se verliese weens skadeveroorsakende diere ly nie.”
Hy vind dit ook ontstellend dat daar in die voorstelle geen ag geslaan word op die lyding van plaasdiere en klein wildsoorte wanneer hulle deur probleemdiere afgemaai word nie.
Die tydsberekening vir die bekendstelling van die dokument word ook bevraagteken. “Dit is op 25 November bekend gestel en kommentaar moes voor 26 Desember ingedien word, wanneer dit tradisioneel die vakansieseisoen is en daar minder werksdae is om aandag aan die voorstelle te gee,” het De Wet gesê.
24 Desember 2010