
Ná maande van bid, smeek, en staar na die hemel op soek na wolke het ons sondes bely, vergifnis gevra en belowe om voor te begin en toe kom die reën. Nie net kol-kol nie, maar oor die wydte van Suid-Afrika. Hiermee vergesigte en moed saamgebring vir more. Daarmee saam die belofte dat El Niño verdryf is, blinkvol damme, golwende groen vlaktes en ‘n goeie oes.
Ons bel mekaar en sê dit vir mekaar. Ons sê dit vir onsself: Die Here was ons genadig. Ons sê dit oor en oor. Saam met Eddie Palm en sy seuntjie Ewald op Landbouweekblad se voorblad (25 November 2016, foto hierbo) wil ons ook baldadig in die reën speel. Dit verwoord almal se binneste. Ek glo dit is die begin van groot water wat die land en sy mense só nodig het en dat die Here die hele land sal seën met milde reën.
Dit is musiek vir ons ore, balsem vir die binneste en lafenis vir die gemoed. Om te gaan slaap met ‘n simfonie op die dak, weerligstrale in die wolke, die tik-tik van druppels teen die ruite, die spoelgeraas in die geute en die aroma van die nat aarde – dit is groot genade!
Ons kan saam met die digter G.A. Watermeyer uitroep:
“die wendam stoot sy uitloop oor
blink breek my ploeg die middelvoor”
Mag ons nie vergeet om dankie te sê nie. Mag die landbouers van hierdie land Jabes se seën oor hulle ondervind.
* Geskryf deur prof. Peet Pienaar, Durbanville.