Talle plase in die Viljoenskroon-omgewing word deur prospekteerregte wat glo op 162 plekke langs die Vaalrivier toegeken is, bedreig.
Luidens ‘n berig op Nuus24.com het Imperial Crown Trading (ICT) in Mei 2009 vir prospekteerregte vir steenkool in die omgewing aansoek gedoen. Volgens die berig is dié regte kort ná die aansoek goedgekeur, hoewel geen konsultasie met die betrokke boere plaasgevind het nie. Konsultasie met die grondeienaars word deur die wet vereis.
ICT het glo bande met die ANC en was vroeër in die nuus toe hy mineraleregte vir 21,4% van die Noord-Kaap se Sishen-staalmyn gekry het. Pres. Jacob Zuma se seun, mnr. Duduzane Zuma, het glo aandele in dié maatskappy.
Briewe
Volgens mnr. Jan Potgieter, die voorsitter van die Viljoenskroon-boerevereniging, het van die boere in die distrik in Junie kennisgewings van ICT en nog ’n mynmaatskappy ontvang dat hulle op plase wil prospekteer.
Die briewe is aan hulle regsverteenwoordiger, mnr. Dawid Senekal, gestuur, wat die maatskappye genooi het om met boere te konsulteer. Geen terugvoer is egter nog van die maatskappye ontvang nie. Volgens die berig het adv. Phemelo Sehunelo, ‘n stigterslid van ICT, Woensdag (27 Oktober 2010) erken dat die maatskappy “nog nie met grondeienaars gekonsulteer het nie”.
Die Departement van Energie hersien tans die aansoek en sal na verwagting later kommentaar lewer. Die boere het intussen aan Senekal opdrag gegee om vas te stel hoeveel boere geraak word en wat aan die gang is, voordat hulle besluit oor regstappe.
Departement van Waterwese
Intussen sê mnr. Willem Grobler, ‘n direkteur van waterreguluasie in die Vrystaat, hy is nie seker of die Departement van Energie die aansoek vir prospekteerregte aan hulle gestuur het nie. “Hulle stel ons gewoonlik van so iets in kennis.”
Hy sê hulle is egter nie bekommerd oor of ‘n maatskappy op plekke langs die rivier prospekteer nie, maar wel oor aansoeke vir mynlisensies. “Om te prospekteer en gate te boor daarvoor het ‘n minimale invloed op die rivierstelsel.”
“Ons sal wel ernstig betrokke raak voordat ‘n lisensie aan so ‘n maatskappy toegestaan word, aangesien ons die aansoek baie noukeurig nagaan en sekere vereistes in dié verband stel – veral ten opsigte van besoedeling en hoe die omgewing onderhou moet word”, vertel hy.
Bron: Nuus24.com
28 Oktober 2010