
Die wenner in die Suid-Kaap is mnr. Pieter Beukes (links) van die Yahshua-boerdery buite Caledon met ’n opbrengs van 3,09 t/ha. Die wenner in die Swartland is mnr. Dirk Lesch (regs) van Malmesbury met ’n opbrengs van 2,66 t/ha.
In die Suid-Kaap is 'n gemiddelde opbrengs van 2,34 ton per hektaar behaal, terwyl die Swartland gemiddeld 2,03 ton per hektaar gelewer het. Die naaswenner in die Suid-Kaap was mnr. Niel Neethling van die Verfheuwel-boerdery, Bredasdorp, met 'n opbrengs van 2,67 ton per hektaar, terwyl die naaswenner in die Swartland mnr. Johan Smuts van die plaas Kersfontein, Malmesbury, was met 'n opbrengs van 2,64 ton per hektaar.
Lesch het gesê hy plant al die afgelope 21 jaar kanola. "In die begin was daar mense wat vir my gesê het Malmesbury is nie kanolawêreld nie. Dat dit koringwêreld is. Vandag plant hulle self ook kanola."
In die lig van die afgelope droë winter in die Swartland het mnr. Andries Theron, ondervoorsitter van die PNS, gesê dit is “ongelooflik” dat ’n plant met minder as die helfte van normale reënval ’n opbrengs van meer as 2 t/ha kan gee.
Die kompetisie is daarop gemik om boere in die Swartland en Suid-Kaap wat die hoogste kanola-opbrengste in droëlandtoestande behaal het, te beloon. Die wenner in elke gebied het R25 000 gekry.