
Noordwes sal een van die eerste provinsies wees wat voorkeur kry wanneer die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling binnekort permitte vir die produksie van hennep (hemp) gaan uitreik.
Die provinsiale departement van landbou en landelike ontwikkeling het ’n webinaar aangebied waar Suid-Afrika se cannabis-meesterplan bespreek is, asook wat die provinsie gaan doen om te verseker dat hy nie agtergelaat word nie. Gauteng, die Wes-Kaap en die Oos-Kaap het aangedui dat hulle gereed is om die verbouing van hennep ten volle te omarm.
Die Wes-Kaap berei hom voor om deel te word van die waardeketting van die Suid-Afrikaanse daggabedryf, sê dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou.
Meyer sê ’n waardeketting-benadering tot die ontwikkeling van die daggabedryf het die potensiaal om inkomste en werksgeleenthede te skep en vaardighede te ontwikkel. Dit sal ook tot die diversifikasie van die ekonomie lei, wat uiteindelik die ekonomie sal laat groei en armoede verlig.
“Dit is hoekom ons daarna uitsien om by die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se meesterplan vir dagga in te skakel. Daardeur kan die Wes-Kaap help om die belangrike aspekte van die plan te versterk, soos die ontwikkeling van ’n stelsel vir volhoubare saadvoorraad en steun vir diegene wat die bedryf wil betree.
“Die daggabedryf is globaal en die Wes-Kaap wil werksgeleenthede in hierdie ontwikkelende bedryf skep. Dit bied ook groot potensiaal vir die Wes-Kaap se ekonomiese herstel.”
Die twee soorte permitte waarom boere by die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling aansoek sal kan doen, is vir primêre produksie en vir vervaardiging. Die verwagting is dat die daggabedryf in Suid-Afrika kan ontwikkel tot ’n bedryf van R28 miljard wat 10 000 tot 25 000 werksgeleenthede oor die waardeketting kan skep. Die bedryf word gesien as ’n trekpleister vir binnelandse en buitelandse belegging, die ontwikkeling van klein besighede en verhoogde uitvoer.
Planne
Daar is op die oomblik geen wet wat die grootskaalse kommersiële produksie van hennep wettig nie, sê me. Bothoboile Pule, hoofdirekteur vir produsentondersteuning en -ontwikkeling by Noordwes se departement van landbou en landelike ontwikkeling. Hennep is ’n soort dagga en dit het verskeie beperkinge op die produksie van hennep meegebring. Die Wet op Dwelms en Dwelmhandel (Wet 140 van 1992) bied ’n groot struikelblok vir die verbouing van die gewas.
Die departement van justisie en korrektiewe dienste is besig om ’n wetsontwerp vir die private gebruik van dagga deurgevoer te kry en het onlangs ’n virtuele openbare verhoor gehou waar insette gelewer kon word. Die hoop is dat wanneer dié wetsontwerp ’n wet word, dit van die beperkinge vir die daggabedryf sal verwyder.
Noordwes se departement van landbou en grondhervorming glo egter hy kan solank begin voorbereidings tref vir die finalisering van die regulasies vir die verbouing van hennep. Hy gaan ook ’n spesiale verwysingsgroep stig wat hom met kwessies van cannabis in die provinsie sal belas.
Meesterplan
Die vyfde weergawe van die land se cannabis-meesterplan is al bespreek op verskeie platforms, insluitend belanghebbende portefeuljekomitees van die parlement.
Die meesterplan sluit in ’n raamwerk vir die verbouing van hennep en dagga, en bestaan uit nege pilare. Dit konsentreer op ’n doeltreffende reguleringstelsel, volhoubare saadverskaffing, navorsing en tegnologiese ontwikkeling, ondersteuningstelsels vir produsente, markontwikkeling, ontwikkelingstelsels vir verskaffers, vervaardiging en produkontwikkeling, onderrig en opleiding, en ook kommunikasie en bewusmaking.
Dit bevat ’n model vir die insluiting van kleiner kwekers om aan die hennep- en daggawaardeketting deel te neem. Die idee is dat hierdie kwekers die gewas op hul plase verbou, maar dat die verwerking van hul produk by ’n sentrale aanleg moet plaasvind. Die staat sal dit bemiddel deur permitte aan groepe kleinskaalse kwekers te gee en ook die nodige infrastruktuur, saad en ander insette verskaf.
Wanneer die hennep of dagga verwerk is, sal private beleggers dit gebruik vir die vervaardiging van verskeie produkte. Die produkte sal plaaslik en in die buiteland te koop aangebied word, sê mnr. Thabo Ramashala van die direktoraat plantproduksie by die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.