Die prys van diesel en petrol skiet in Oktober die hoogte in met stygings van tussen 35c en 37c per liter, het die Departement van Energie aangekondig.
Luidens ’n verklaring sal diesel vanaf Woensdag (5 Oktober 2011) tussen 35c en 37c per liter duurder wees. Die prys van petrol gaan met tussen 36c en 37c per liter styg.
Hierdie stygings beteken ’n astronomiese toename van sowat R360 miljoen in die landboubedryf se jaarlikse produksiekoste. Mnr. Johan Pienaar, senior ekonoom van Agri SA, het vroeër aan Landbou.com verduidelik “elke sent wat die brandstofprys styg, verteenwoordig ’n styging van R10 miljoen in die landbou se jaarlikse produksiekoste”.
Volgens die departement word die styging grootliks aan die swakker vertoning van die wisselkoers van die rand teenoor die dollar gedurende September toegeskryf. Die rand se waarde het tot ’n styging van 40c gelei. ’n Daling in die internasionale olieprys het wel ’n laer styging tot gevolg gehad.
‘Hou vas jou hoed!’
Intussen voorsien mnr. Tony Twine, senior ekonoom by die Econometrix-groep, dat “ ’n rowwe rit” nog vir verbruikers voorlê wat brandstofpryse in die volgende drie maande betref.
Twine sê hoewel dit lyk asof die internasionale olieprys daal, is enigiets tans moontlik wat dié prys asook die wisselkoers betref. “Die res van die jaar se brandstofprys gaan grootliks afhang van die werklik groot wisselvalligheid wat tans rondom die rand en die wêreldolieprys bestaan.”
Volgens Twine is dit tans “die slegste moontlike tyd” om ’n voorspelling oor November se brandstofprys te waag.
“Nietemin, as die olieprys en die wisselkoers van die afgelope twee dae in ag geneem word, kan diesel en paraffien in November elk sowat 20c per liter duurder wees. Ons sal maar moet wag en kyk wat in Oktober gebeur.”
30 September 2011