
Kleinhandelpryse vir mieliemeel het dié van wit mielies ingehaal en albei pryse was in Julie 2016 sowat 43% ho?r as in Julie 2015.
Suid-Afrika het die afgelope seisoen een van die ergste droogtes nog beleef. Reënval gedurende mielie-planttyd was só laag dat die witmielie-oes van 2015/16 sowat 34% swakker is as dié van die voorafgaande seisoen.
Die gemiddelde maandelikse Safex-prys vir witmielies het vanaf Julie 2015 gestyg van R3179 per ton tot ‘n hoogtepunt van R4992 per ton in Februarie 2016. Dit is ‘n styging van 57% in sewe maande. Die styging van November 2016 tot Jan 2017 (planttyd) alleen was 47%.
Gewoonlik jaar vooruit
Vraag en aanbod-berekenings vir mielies en ander graangewasse word gewoonlik vir ‘n jaar of meer vooruit gedoen. Die verbruik van wit mielies deur mense in Suid-Afrika is relatief konstant en gewoonlik is dit die grootte van die aanbod (oes) wat onseker is. Hierdie vinnige, skerp styging in die witmielieprys laat ‘n mens wonder of dit nog die geval is. Verskeie markdeelnemers het voorspel dat die vraag na wit mielies drasties sou daal vir die 2016/’17 seisoen.
Die verandering in die pryse van wit mielies, die kleinhandelsprys van mieliemeel, asook die hoeveelheid wit mielies verwerk vir menslike verbruik word as indekse uitgedruk (Julie 2015 = 100) en kan in die grafiek hieronder gesien word. Prysveranderings is nominaal, d.w.s. die effek van inflasie is oor die kort tydperk onder bespreking nie uit pryse gehaal nie.
Grafiek:
Die maandelikse Safex-spotprys vir wit mielies word deur die groen lyn voorgestel. Die skerp styging van Desember 2015 tot Februarie 2016 staan duidelik uit. Die rooi lyn is die gemiddelde maandelikse kleinhandelsprys van super- en spesiale mieliemeel soos deur Statistiek Suid-Afrika gepubliseer.
Hoewel die styging meer geleidelik was, het mieliemeel-kleinhandelspryse dié van wit mielies ingehaal en is albei pryse in Julie 2016 43% ho?r as in Julie 2015. Dit is voorwaar slegte nuus vir enige land as die prys van sy stapelvoedsel soveel in ‘n jaar se tyd styg.
Wat is uitwerking op verbruik?
Wit mielies verwerk vir menslike verbruik is as maatstaf vir werklike verbruik gekies. Wat is die uitwerking van die kwaai witmieliemeel-prysstyging op verbruik? As na die blou lyn gekyk word, nie veel nie. Op ‘n jaar-tot-jaar-basis het die hoeveelheid mielies verwerk vir menslike verbruik met 11% gedaal. Dit is ná ‘n daling van 8% vir Februarie tot Maart, maar ‘n styging van 14% vir die drie maande vanaf Maart tot Mei.
Op die oog af lyk dit asof die 11% daling nie statisties betekenisvol is nie, maar eerder deel is van ‘n maand-tot-maand-wisseling in produksie. Tot dusver was die pessimiste wat groot verbruikdalings in die vraag na witmielies voorspel het, verkeerd.
‘n Werklike daling (indien enige) sal eers oor ‘n langer termyn bepaal kan word.
* Johan Strauss is 'n navorser by BVG Commodities.