
Die buro vir landbou- en voedselbeleid (BFAP), met die samewerking van dr. Marlene Louw, senior landbou-ekonoom van Absa Agribesigheid, sê in hul jongste maandelikse ontleding van voedselinflasie duurder brood en graankosse in Februarie weerspieël waarskynlik nog nie die oorlog in Oekraïne se gevolge nie.
Dit duur gewoonlik drie tot vier maande voordat die volle uitwerking van hoër landboukommoditeitspryse in kleinhandelvoedselpryse weerspieël word.
Volgens Statistieke Suid-Afrika was voedselinflasie in Februarie op ’n jaargrondslag 6,4%. Brood en graankosse was 3,7% duurder as ’n jaar gelede en olies en vette 22,7%. Vergeleke met Januarie was pryse vir brood en graankosse 2,2 persentasiepunte hoër.
BFAP sê graankosse se hoër inflasie was waarskynlik in dié stadium eerder die gevolg van hoë wêreldgraan- en oliesadepryse teen einde verlede jaar en begin vanjaar, onder meer weens droë toestande in Suid-Amerika.
“Ons verwag om die pryseffekte van die Rusland-Oekraïne-oorlog op brood, graankosse, olies en vette in April te sien.” Die omvang en duur van brood en graankosse se invloed op voedselflasie in die komende maande sal bepaal word deur die dinamika van internasionale aanbod.
Faktore wat ’n rol kan speel, sluit in graan- en oliesadeproduksie in Amerika in die komende produksieseisoen en Oekraïne se vermoë om, te midde van konflik in die land, te plant, te oes en uit te voer.
“ ’n Wye reeks scenario’s kan ontvou, na gelang van die duur en uitkoms van die oorlog, maar sommige markontleders sê dat Oekraïne se sonneblomproduksie in die komende produksieseisoen met meer as 30% kan daal, wat net gedeeltelik teëgewerk kan word deur ongewoon groot voorrade wat weens huidige ontwrigting van verwerking na die nuwe seisoen oorgedra word,” sê BFAP.
“Terwyl huidige hoë pryse na verwagting ’n sterk aanbodreaksie in die Noordelike Halfrond tot gevolg sal hê, wek Rusland en Oekraïne se beduidende gesamentlike aandeel in wêrelduitvoer van sleutelkommoditeite soos koring (24%), gars (21%), mielies (14%) en sonneblomprodukte (56%) steeds kommer.
“Verder is Rusland die wêreld se voorste uitvoerder van chemiese kunsmis en sanksies in reaksie op die konflik, en die gevolglike uitvoerbeperkings vanaf Rusland, sal insetkoste nog hoër druk, wat tesame met beskikbaarheid die risiko skep om aanbodreaksie te strem.”
Vleispryse
Verbruikersvleispryse was in Februarie 8,6% hoër as ’n jaar gelede. BFAP sê vleis-inflasie bly hoog weens ’n lae aanbod van rooivleis, tesame met sterk insetkostedruk in lewendehawekettings weens die stygings van graan- en oliesadepryse, asook sterk uitvoervolume na veral die Midde-Ooste.
“Vleisinflasie kan egter oor die komende maande matiger word namate druk op besteebare inkomste swaar op verbruikers se koopkrag druk. In dié stadium lyk die ruimte vir ’n beduidende afname in vleispryse onwaarskynlik weens die gevolge van insetkostedruk.”
SA vergeleke met ander lande
Suid-Afrika se voedselinflasie van 6,4% op ’n jaargrondslag in Februarie is minder as Zambië se 16%, Kenia se 8,7%, Brasilië se 9,1% en Amerika se 7,9%. In China was voedselpryse egter 3,9% laer as ’n jaar gelede.
BFAP sê Suid-Afrika se laer voedselinflasie is te danke aan vooruitsigte vir ’n goeie somergraanoes, wat pryse ná aan uitvoerpariteitsvlakke gehou het, en swakker vraag te midde van die aanhoudende stremming op koopkrag.