
Onder die nuwe raadslede wat onlangs by die Land Bank aangestel is, is ook ’n bekende in landboukringe en ’n baanbreker in die landbou-sakewêreld.
Dr. John Purchase, hoof uitvoerende beampte van die Landboubesigheidskamer (Agbiz), sal voortaan in die raad dien, terwyl prof. Herman van Schalkwyk, rektor van die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit, die raad ná jare se diens verlaat.
Luidens ’n verklaring is mnr. Lebogang Serithi, hoof finansiële beampte van die bank, ook ’n nuwe lid van die raad. Me. NP Mnxasana, ’n nie-uitvoerende direkteur van die bank en ’n geoktrooieerde rekenmeester en mnr. BP Mathidi, wat reeds jare lank in die raad dien, is heraangestel.
Opgewonde
Mnr. Phakamani Radebe, hoof uitvoerende beampte van die bank, sê hulle is opgewonde om met die nuwe raadslede saam te werk.
“Ons glo die nuwe raadslede sal die balans tussen die lewer van dienste ten opsigte van ons ontwikkelingsmandaat en die verskansing van volhoubare sakepraktyke binne ’n finansiële instelling vur die landbou bevorder,” aldus Hadebe.
Die nuwe raad is van 5 Julie 2012 af in diens.