
Die agentskap het ’n ongekwalifiseerde ouditverslag ontvang.
In dieselfde tydperk is R4,7 miljoen se lenings toegestaan, waarvan R3,9 miljoen in die landbou aangewend is. Altesame 140 lenings is uitgereik. Leningsterugbetalings oor dié tydperk was altesaam R11,181 miljoen. Die bedrag sluit R10,7 miljoen se lenings in wat die agentskap toegestaan het, asook R442 000 se lenings wat deur die regering se kredietskema, Mafisa, vir swart boere toegestaan is.
Danksy beleggings in die landelike ondernemingsontwikkelingshubs is 92 nuwe werksgeleenthede geskep by die onderskeie hubs in die distrikte van Ncora, Mqanduli, Mbizana en Emalahleni. Volgens Dladla het die agentskap homself die afgelope jaar toegespits op die waardetoevoegingskapasiteit by die hubs, veral die maal en verwerking van mielies en sorghum.
Die nuwe Tshabo-hub, wat tans hoofsaaklik vir blomproduksie aangewend word, is van vanjaar af in produksie. Die mikpunt is om uiteindelik blomme, slakke en groente te produseer deur gebruik te maak van hidroponika wanneer die nodige geld beskikbaar is, sê Dladla.
Die agentskap het R3,5 miljoen bestee op die ontwikkeling van voerkrale en infrastruktuur – in die vorm van laaiopritte en veilingskrale – om die bemarking van vee te ondersteun. Drie veeveilingspersele, waar 510 beeste van R3,3 miljoen reeds verkoop is, is in die plaaslike munisipaliteit Enoch Mgjima (Komani en Queenstown) opgerig.
Die grootste deel van die begroting is egter aangewend vir tegniese en finansiële bystand vir filiale en verwante entiteite.
Die Magwa- en Majola-teeplantasie het bystand gekry vir finansiële redding wat teen Junie in die 2019-’20-boekjaar afgehandel sal word. Altesaam R33,9 miljoen is vanjaar aan dié sakeredding bestee, met 1 312 ha tee wat by Magwa en 170 ha tee wat, oor die reddingstydperk, by Majola aangeplant is.
Die Amajingqi-makadamiaplaas naby Willowvale het R32,6 miljoen ontvang, met 267 ha makadamiabome wat in die 2018-’19-boekjaar in produksie was.
Die agentskap is besig om met ander belanghebbendes saam te werk om die situasie by die Kangela-sitrusplaas in Addo op te los. Die hooggeregshof in Grahamstad het in 2018 ’n interdik toegestaan om die agentskap te verhinder om met die plaas of die trust in te meng. Luidens ’n berig in Daily Dispatch het hofdokumente in 2018 getoon dat inmenging van die agentskap daartoe gelei het dat die plaas wanbestuur is, met bome wat nie bemes, bespuit of gesnoei is nie.