
’n Gedeelte van 35 km van die ekonomies belangrike R31-roete tussen Daniëlskuil en Koopmansfontein is Maandagmiddag deur die Noord-Kaapse departement van paaie en openbare werke gesluit nadat dit deur onlangse mildelike reën oorstroom is. Die roete word veral deur die landbou-, mynbou- en toerismesektor gebruik. Agri Noord-Kaap is egter bekommerd dat die LUR vir paaie en openbare werke sekere grondpaaie wat reeds in ’n swak toestand is, as alternatiewe roete aanbeveel.
Die sluiting kom nadat dele van die pad onbegaanbaar geraak het weens skouers wat weggetrap is, en diep slaggate, sommiges “tot so diep as 1 meter”. Met mildelike reënval en gevolglike vloede het een rybaan weggespoel en slaggate onsigbaar gemaak. “Die pad is lewensgevaarlik,” meen me. Fufe Makatong, LUR.
Sy sê die departement het die betrokke gedeelte van R31-roete gesluit weens vrese oor padveiligheid. “Een van die bane het weggespoel en die rybaan het vernou. Daar is lewensgevaarlike slaggate van 1 meter diep. Die pad kan nie herstel word nie totdat die water verdamp het. Ons gaan binnekort ’n deeglike opname doen.
“Van die slaggate is intussen met gruis gevul, maar die ingenieurs sê dit is steeds te gevaarlik om daar te ry. Ons gaan die pad in die volgende weke herstel en herseël. Ons het ook ’n begroting wat ons volgende jaar vir herstelwerk kan gebruik. Die provinsie bly in beheer van die roete totdat Sanral dit gaan oorneem.”
Alternatiewe roetes
Sy het alternatiewe roetes soos die N12, N18 en die N14 vir motoriste aanbeveel, asook grondpaaie soos die R325 en die R385. “Die departement gaan die grondpaaie nou gereeld skraap en onderhou omdat dit as alternatiewe roetes aanbeveel is.”
Die R31-roete het verswak weens die talle ertsvragmotors wat daarop ry. “Meer as 2 000 vragmotors ry daagliks op die pad. Ons het R600 miljoen in die mediumtermynbegroting beskikbaar om paaie te onderhou, en kry ’n toelae om die pad gereeld te herseël. Dit is egter nie genoeg om die pad se fondament te versterk nie.”
Mnr. Dirk Krapohl, hoofbestuurder van Agri Noord-Kaap, sê hulle is bekommerd dat die LUR aanbeveel dat grondpaaie as alternatiewe roetes gebruik word. “Die grondpaaie soos die R373 tussen Koopmansfontein en Kuruman is reeds in ’n slegte toestand. Vragmotors het die grondpad begin gebruik weens die slaggate op die R31. Boere gebruik meesal die grondpaaie, wat nou deur mynvragmotors beskadig word. Menige vragmotor het al vasgeval, waarna boere verplig was om hul eie tyd en toerusting te gebruik om die vragmotorbestuurders uit te help. Dit veroorsaak groot frustrasie.”
Agri Noord-Kaap is verheug dat die Noord Kaapse regering ingestem het om die bestuur van die R31-roete aan Sanral oor te dra sodat dit beter onderhou kan word.
Krapohl sê sodra Sanral die R31-roete oorneem, kan aandag aan die weegbrûe gegee word wat buite werking is. Vragmotors en die vrag daarop moet geweeg word om te verseker dit is nie oorlaai nie. Oorlaaide vragmotors trap die paaie stukkend. “Die munisipale weegbrug in Moghulpark in Kimberley op die N12 vanaf Warrenton is opgeknap en die bodproses vir die bestuur daarvan is aan die gang. Die provinsiale weegbrug suid van Kimberley op die N12-roete is so erg gevandaliseer dat dit in onbruik is. Die georganiseerde landbou oorweeg dit om met die samewerking van die departement mobiele weegbrûe te koop en te bestuur.”