Voertuighandelaars het tot die stryd teen renosterstropery toegetree en wil R5 miljoen in een jaar bydra, sê Sanparke.
Luidens ’n verklaring gaan 13 handelaars van Unitrans se Volkswagen- en Audi-afdeling R500 van elke voertuig wat hulle voortaan verkoop aan Sanparke se teen-renosterstropingstrust skenk.
Die geld sal aangewend word vir die stryd teen stropers in die land se nasionale parke. Die inisiatief is Woensdag (21 September 2011) in Johannesburg bekend gestel. Op die geleentheid is ’n aanvanklike skenking van R500 000 aan Sanparke oorhandig.
Volgens voorlopige berekeninge verwag Unitrans om tussen R400 000 en R450 000 per maand in te samel. Sou die mikpunt van R5 miljoen in een jaar bereik word, sal dit die grootste enkele donasie nóg wees wat Sanparke ontvang het.
Bewaarders
Tydens die bekendstelling is ’n samewerkingsooreenkoms ook deur mnr. Giju Varghese, die hoof van sake-ontwikkeling by Sanparke, mnr. Steve Keys, hoof uitvoerende beampte van Unitrans en mnr. Janssen Davies, voorsitter van die nasionale uitvoerende komitee van Sanparke se ere-wildbewaarders onderteken.
In ’n poging om bewaarders op dieselfde vlak toe te rus as stropers, het Unitrans twee Amarok-viertrekbakkies aan Sanparke beskikbaar gestel. Die groep meen deur bewaarders by te staan om die ongelykhede wat tussen hulle en stropers bestaan op te los, kan die stryd makliker gewen word.
Volgens mnr. Ken Maggs, verteenwoordiger vir Sanparke, word tans geskat dat Suid-Afrika vanjaar sowat 400 renosters weens stropery gaan verloor.
Dié syfer staan tans op net meer as 300 diere wat reeds vir hulle horings doodgemaak is. Sedert 2007 het dié misdaad skerp toegeneem. Net 13 renosters is in dié jaar dood gemaak.
29 September 2011