
Mnr. Ian de Villiers, VF Plus-raadslid in die JB Marks-munisipaliteit, sê die gebied is in ’n ekologies kwesbare landelike gebied en nie geskik vir hoëdigtheids- residensiële ontwikkeling nie. “Enige só ’n ontwikkeling sal ’n potensiële besoedelingsgevaar vir Potchefstroom se waterbronne skep.”
Nadat die VF Plus die polisie en bestuurslede van die departement oor die situasie ingelig het, is die toneel besoek. Met die VF Plus se aankoms kon gesien word dat die betreders reeds erwe afgebaken het. Die polisie se eenheid vir openbare orde was ook op die toneel.
Volgens De Villiers is dit kommerwekkend dat die betreders in hul gesprekke met die polisie beweer het dat ’n plaaslike raadslid die besetting georkestreer het.
“Die VF Plus het intussen in verbinding gebly met die departement en het onder meer versoek dat ’n dringende interdik teen die besetters verkry word. Die departement het bevestig dat hy wel van voorneme is om so ’n interdik te verkry.
“Die VF Plus sal die situasie bly monitor en druk toepas op die owerhede om ferm stappe te neem teen hierdie wettelose optrede. Die moontlike betrokkenheid van plaaslike politici moet ook deeglik ondersoek word.”