
Elektrisiteitsgebruikers in die landbou moet alles in hul vermoë doen om onafhanklik van die nasionale kragnetwerk te raak omdat Eskom se toekoms op ’n ramp afstuur, het mnr. Ted Blom, ’n energie-konsultant, gewaarsku op Agbiz Grain se virtuele simposium oor die koste van elektrisiteit in die toekoms.
Hy het gesê ’n massiewe verhoging word weer volgende jaar verwag. “Nie-amptelik het ek verneem Eskom het die energie-reguleerder gevra vir drie agtereenvolgende verhogings van 15% en dit kan selfs 20% wees. Dit is wat die nuwe bestuur meen nodig is om tariewe te hê wat koste weerspieël.”
Hy het gesê hy het ’n probleem daarmee, want mens kan nie tariewe hê wat koste weerspieël in ’n monopolie-situasie nie. “Daar is geen mededingers met wie tariewe vergelyk kan word nie en dit vererger net die ondoeltreffendheid soos wat ons oor die afgelope 10 jaar waargeneem het en wat ook gepaard gegaan het met korrupsie en groot tariefverhogings.”
Blom het gesê na gelang van verbruikers se tariefstrukture het hulle die afgelope 12 jaar stygings van 500% tot 700% ervaar, terwyl die inflasiekoers in hierdie tyd met nie meer as 79% gestyg het nie. “Dit is nie volhoubaar nie. Terselfdertyd het Eskom se skuld van R40 miljard in 2008 tot bykans R500 miljard vroeër vanjaar gestyg.”
Eskom het in 2001 nog internasionale toekennings ontvang as een van die wêreld se doeltreffendste kragvoorsieners teen die laagste tariewe. Hy het gesê die regering se besluit om Eskom te verander van ’n onderneming sonder winsbejag na een wat wins najaag, het die situasie drasties laat versleg. “Die ANC het gedink hy gaan lekker geld maak met Eskom, maar alles het net slegter en slegter gegaan.”
In 2001 het Eskom se beskikbaarheid van elektrisiteit bo 90% gestaan. Dit is nou 62% en selfs ’n nuwe kragsentrale soos Medupi se beskikbaarheid is minder as 50% van die spesifikasie. Net 20% van die kragsentrales werk doeltreffend. Die res is in so ’n swak toestand dat kragopwekking enige tyd in duie kan stort.
In die lig daarvan dat elektrisiteitskoste die derde grootste uitgawe, naas personeel- en infrastruktuurkoste, vir die graansilo-bedryf is, word opbergers aangeraai om ernstig na hul eie kragvoorsiening te kyk. “Bedryfsondernemings en boere sal baie vinnig besluite moet neem oor onafhanklikheid van die nasionale netwerk. Eerstens gaan die krag nie beskikbaar wees wanneer jy dit nodig het nie en tweedens gaan die pryse deur die dak styg in ’n poging om die skuldlas te verminder. Ek voorsien dat groot tariefverhogings verbruikers oor die volgende vyf tot tien jaar in die gesig staar.”
Hy het gesê veral boere in seisoenale bedrywe se energiekoste is baie hoog en vir hulle is dit die moeite werd om na alternatiewe energiebronne te kyk. “Daar is groot geleenthede, maar ook baie slaggate.”
Omdat dit ’n betreklik nuwe bedryf is, is daar ook baie skelms betrokke en dit verg deeglike beplanning om die regte ding te doen. Dit kos sowat R1 miljoen om ’n megawatt se opwekkingsvermoë te skep.