
Boere gaan, danksy die dieselrabatstelsel, slegs 18c meer per liter vir diesel betaal en nie die volle 80,5c waarmee heffings op brandstof op 1 April verhoog nie.
Mnr. Fanie Brink, 'n onafhanklike ekonoom, sê volgens die dieselkortingstelsel, wat in die vroeë 2000's met die Regering beding is, word boere heeltemal van die heffing vir die Padongelukfonds (POF) vrygestel, omdat die diesel wat hulle gebruik, meestal nie vir kilometers op openbare paaie is nie.
Dit beteken hulle word níé geraak deur die verhoging van 50c per liter in die POF-heffing soos deur mnr. Nhlanhla Nene, Minister van Finansies, in sy Begrotingsrede aangekondig is nie. Nene het ook gesê die brandstofheffing styg met 30,5c per liter.
Brink sê danksy die dieselkorting van 40% wat vroeër vir boere beding is, sal boere net sowat 18c per liter meer betaal. Omdat die korting op 'n persentasie berus, en nie 'n spesifieke bedrag nie, verander dit wanneer die heffing aangepas word.
Brink sê boere eis die korting terug wanneer hulle hul opgawes vir belasting op toegevoegde waarde (BTW) indien.
Mnr. Johan Pienaar, adjunk uitvoerende direkteur van Agri SA, sê weens die verandering in die brandstofheffing behoort die totale terugbetaling van sowat R1,88 tot R2,50 per liter diesel te verhoog. Pienaar sê die stelsel waardeur boere dit terugeis, werk goed.
“Oudits deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het egter sekere probleme aan die lig gebring rakende onder meer logboeke wat nie op datum gehou is nie, of wat na SAID se mening nie volledig genoeg ingevul is nie.”
Die Tesourie en SAID het reeds vroeër gesê die stelsel gaan ondersoek word, soos wat Nene ook nou in sy rede bevestig het.
Pienaar sê op verskeie vergaderings wat Agri SA, Graan SA en Aartappels SA reeds hieroor met SAID gehou het, was die voortbestaan van die stelsel nie 'n gesprekspunt nie, maar eerder vollediger administratiewe beheermetodes.
Hy glo die georganiseerde landbou sal ook vorentoe by die proses betrek word.
“Die korting is verseker wesenlik en van die min ondersteuningsmaatreëls wat die landbou wel kry. Die voortsetting daarvan sal gevolglik voorop gestel word.”
Pienaar sê die terugbetaling is spesifiek vir boere en nie vir onafhanklike vervoerkontrakteurs nie, selfs al vervoer hulle landbouprodukte.
“In bepaalde gevalle waar boere diesel vanaf plaastenks aan sulke mense voorsien, is terugbetaling wel van toepassing, maar met duidelike voorvereistes wat nagekom moet word.”