
Vinniger verwerking van aansoeke vir waterverbruiklisensies, derde party wat binnekort toegang tot Transnet se vragspoornetwerk sal kry, en Eskom wat sy ontbondeling in Desember sal voltooi, is van die kwessies waaroor pres. Cyril Ramaphosa tydens sy sesde staatsrede gepraat het.
Die staatsrede moes vanjaar in die Kaapstadse stadsaal gelewer word nadat die parlementêre geboue in Januarie deur ’n brand beskadig is.
Met Suid-Afrikaners en die ekonomie wat weens die covid-19-pandemie se inperkingsregulasies reeds vuisvoos is, het hy aangekondig dat die nasionale ramptoestand opgehef sal word sodra ander maatreëls ingevolge die Wet op Nasionale Gesondheid (Wet 61 van 2003) en ander wetgewing afgehandel is om die pandemie in bedwang te hou.
Oor 100 dae sal ’n omvattende maatskaplike kompak afgehandel wees om die ekonomie te laat groei, werk te skep en hongersnood te beveg. Dit sal die ekonomiese heropbou-en-herstelplan wat steeds die algemene program bly om die ekonomie te herbou, verder uitbou.
Die prioriteite wat Ramaphosa verlede jaar bekend gemaak het, bly dieselfde. Dit is om die pandemie die hoof te bied, die grootskaalse vestiging van infrastruktuurprojekte, ’n toename in plaaslike produksie, die stimulering van werkskepping en die onderhoud van Suid-Afrikaners se lewensbestaan, asook die uitbreiding van die land se vermoë om energie op te wek.
Elektrisiteit
Elektrisiteitsvoorsiening bly ’n groot pitsweer vir Suid-Afrika. Ramaphosa het dit duidelik gemaak dat die probleme in die ekonomie diep en struktureel is. “Wanneer elektrisiteitvoorsiening nie verseker kan word nie, wanneer die spoorweë en hawens ondoeltreffend is, wanneer innovering teruggehou word deur die skaarsheid van breëbandspektrum, wanneer watergehalte versleg, is maatskappye onwillig om te belê en die ekonomie kan nie behoorlik funksioneer nie.”
Hy het bekend gemaak dat die kabinet die wysigings aan die Wet op Elektrisiteitsregulering (Wet 4 van 2006) goedgekeur het vir openbare kommentaar. Dit is om onder meer die selfopwekkingskragdrempel vir elektrisiteit sonder ’n lisensie vanaf die nasionale energiereguleerder (Nersa) te verhoog. Verskeie herwinbare-energieprojekte sal in die volgende twee jaar tot die elektrisiteitnetwerk bygevoeg word, insluitend 3 500 MW van gas- en batteryprojekte. Eskom is ook besig om sy instandhouding op te skerp.
Hawens en spoorweë
Hy het uitgewys dat oor ’n aantal jare die funksionering van Suid-Afrikaanse hawens afgeneem het teenoor die res van die vasteland en ander dele van die wêreld. “Dit strem ekonomiese aktiwiteit. Die landbousektor is byvoorbeeld baie afhanklik van doeltreffende hawens wat goed bestuur word om hul produkte na oorsese markte uit te voer. Vars produkte kan nie vir dae en selfs weke by ’n terminaal gestrand wees nie.”
Ramaphosa het gesê die goeie nuus vir die landbousektor is dat Transnet besig is om hierdie probleme op te los. Transnet konsentreer daarop om die bedryfsdoeltreffendheid by die hawens te verbeter deur bykomende toerusting aan te koop en ’n nuwe stelsel toe te pas om opeenhoping te verminder.
Die instelling sal binne die volgende paar maande voorstelle van private vennote vra ten opsigte van die Durban- en Ngqura-vraghouerterminaal. Die vennootskappe by die twee terminale behoort in Oktober vanjaar gereed te wees. Die proses sal ook begin waar derdeparty-toegang tot sy spoorvrag-vervoernetwerk vanaf April gegee sal word vir die vraghouerkorridor tussen Durban en City Deep in Gauteng. Vennootskappe is ook aangegaan met die private sektor om kabeldiefstal en vandalisme aan te pak.
Landbou as werkskepper
Wat die land se hoë werkloosheidskoers betref, het Ramaphosa weer die landbou uitgewys as ’n sektor wat beduidende potensiaal het vir werkskepping in bedrywe soos sitrus, tafeldruiwe en rosyntjies, subtropiese vrugte, avokado’s, bessies en neute. Die hennep- en daggasektor het die potensiaal om meer as 130 000 nuwe werksgeleenthede te skep. Regulatoriese prosesse word daarom meer vaartbelyn gemaak sodat hierdie sektore kan floreer soos in Lesotho. Die beleids- en reguleringsraamwerk vir die industriële verbouing van hennep en dagga sal hersien word juis met die oog op hul groot potensiaal vir beleggings en werkskepping.
“Ons mense in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en elders is gereed om te boer met hierdie eeue oue kommoditeit en dit na die mark te bring in nuwe en innoverende vorms.”
Rakende die verwerking van aansoeke vir waterverbruiklisensies het hy gesê die teiken om agterstallige aansoeke af te handel is op 80% gestel teen Junie vanjaar, en dat alle aansoeke in die volgende boekjaar binne 90 dae verwerk moet word. Wetgewing word ontwikkel vir die daarstel van ’n infrastruktuuragentskap vir waterhulpbronne. Dit sal binne ’n maand vir openbare kommentaar gepubliseer word.