
Mnr. Narend Singh, IFP-LP, het hom vir die versekering gevra dat die staat nie die Durbanhawe of sommige van sy strategiese terminale aan private entiteite sal oorhandig nie. Hy wou ook weet hoe Ramaphosa vrese van vakbonde oor potensiële werksverliese gaan besweer, indien die plan wel is om dit aan private entiteite te oorhandig. Die Durbanhawe is ’n belangrike uitvoerpunt vir landbouprodukte.
Ramaphosa het verlede maand tydens ’n besoek aan die hawe ’n infrastruktuurontwikkelingsprojek van R100 miljard aangekondig. Dit gaan in vennootskap met die private sektor toesien dat die kapasiteit van die hawe uitgebrei en gemoderniseer word. Hy het later in sy weeklikse nuusbrief gesê Transnet beoog om ’n toegewing te adverteer vir die bou en bedryf van die nuwe terminaalpunt. Dit sal private belegging lok en die doeltreffendheid van die hantering van houers verbeter.
Ramaphosa het in die nasionale vergadering benadruk dat die hawe ’n belangrike nasionale bate is. Hy het gesê die toegewing vir samewerking met private vennote moet nie gesien word as ’n plan om dit te privatiseer nie. Hy het gesê die opgradering van die hawe sal duisende nuwe werkgeleenthede skep.
Transnet het ’n ambisieuse plan in werking gestel vir die modernisering en transformasie van die hawe om opeenhoping te verminder. Die hawe se vermoë om vrageenhede te hanteer, sal vanaf 2,89 miljoen eenhede tot meer as 11 miljoen eenhede uitgebrei word. Hy het ook gesê die plan is om die Durbanhawe as die spilpunt van die Suidelike Halfrond te posisioneer.
Kaapstadhawe
Mnr. John Steenhuisen, die DA se leier, het Ramaphosa daarop gewys dat hawens wat geprivatiseer is, van die beste ter wêreld is. Hy het gesê die vrees van maatskappye dat hulle ondernemings sal sink en selfs boere wie se varsprodukte in die hawens lê en vrot, is waaroor Ramaphosa meer bekommerd moet wees. “Doeltreffendheid is uiters belangrik. Die enigste ding wat dit ’n hupstoot gee, is mededinging, nie net met hawens van ander lande nie, maar ook die land se eie hawens.” Hy het voorgestel dat die DA provinsiale regering in die Wes-Kaap beheer van Kaapstadhawe moet oorneem.
Ramaphosa het hom egter daarop gewys dat die hawe in Singapoer en China van die beste ter wêreld is en in staatsbesit is. Hy het ook gesê dit sal nie gebeur dat die Kaapstadhawe aan die DA gegee sal word nie.
“Kaapstad-hawe is deel van Transnet se portefeulje en dra grootliks by tot die ekonomie van Suid-Afrika. Ons is trots daarop. Al is die hawe in Kaapstad geleë, sien ons onsself as ’n eenheidstaat en al hierdie hawens is in bedryf om waarde toe te voeg tot die nasie in geheel. Ons is nou op ’n reis om ons hawens te vernuwe om hulle doeltreffender te maak sodat hulle weer terugkeer na hul gloriedae,” het Ramaphosa gesê.