
Dit is een van die ernstige kwessies waaroor die EFF en ANC se LP’s nog konsensus moet bereik in die ad hoc-komitee wat voorgestelde wysigings aan artikel 25 van die Grondwet moet maak om onteiening sonder vergoeding duidelik daarin te skryf.
Die EFF se voorstel is dat die staat die voog van Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne, insluitend grond, moet wees. Hy wil ook sien dat afgesien word van 1913 as afsnydatum vir die eis van grond en dat die hele klousule oor vergoeding geskrap moet word.
Die ANC wil nie hê dat howe ’n rol moet speel by die bepaling van die vergoedingsbedrag nie.
Titelaktes kraai koning
Ramaphosa het gesê die EFF se voorstel oor voogdyskap van die staat kan gesien word as die nasionalisering van alle grond. Die ANC se benadering was nog altyd dat verblyfreg aan Suid-Afrikaners gegee word. Om verblyfreg te hê beteken dat gewone mense eienaarskap van grond wil hê.
Hy het gesê selfs gedurende die ou bestel toe kommunale eienaarskap toegestaan is, kon die hoofman aan huishoudings grond gee en daardie grond kon van die een generasie na die ander oorgedra word. “Die grondhonger van mense was nog altyd om grond te besit.”
Hy het gesê om ’n sambreelbenadering tot grondeienaarskap te hê, kan die gees van entrepreneurskap demp. “Ons mense wil die grond besit en titelaktes hê. Wanneer hulle dit het, kan hulle lenings uitneem.”
As voorbeeld het hy na die boere van Tafelkop naby Groblersdal verwys wat onlangs hul titelaktes gekry het en nou na die bank kan gaan vir ’n lening om hul boerderybedrywighede uit te brei.
Hy het benadruk dat die ANC wil sien dat die grondhervormingsproses daartoe moet lei dat grond aan die mense herstel word en dit moet gepaard gaan met die besit daarvan.
Rakende die wysiging van artikel 25 het Ramaphosa gesê die doel is om die artikel duidelik te maak sodat die howe nie kan twyfel hoe om dit te interpreteer nie.
Hy het weer ’n beroep gedoen dat Suid-Afrikaners saam die grondkwessie moet oplos. Die grondhervormingsproses het die afgelope 27 jaar nie daarin geslaag om die grondhonger aan te pak nie en indien dit nie opgelos word nie, sal die sweer vir ewig bly.