
TLU SA haal Malema in ’n
verklaring aan dat hy glo tydens die EFF Wes-Kaap se derde provinsiale
kieskonferensie aan die party se afgevaardigdes gesê het: “Jy moet nooit bang
wees om dood te maak nie. ’n Revolusie vereis dat daar op een of ander stadium
moord moet wees, want moord is deel van ’n revolusionêre daad.”
Luidens die verklaring sê TLU SA Malema se moorddreigemente is onaanvaarbaar en bedreig stabiliteit in Suid-Afrika. “Suid-Afrika, en spesifiek die regering, staan nou voor een van die strengste toetse vir geloofwaardigheid en vrede in sy hantering van die situasie.”
Mnr. Henry Geldenhuys, TLU SA-president, sê dit is onaanvaarbaar dat iemand blatant en in die openbaar ’n aanval teen die land se burgers kan doen. “Die feit dat hy ’n sittende parlementslid is, moet as verswarende omstandighede geld en die president, mnr. Cyril Ramaphosa, moet standpunt inneem en optree teen hierdie openlike dreigemente.
“Die staat moet enige moontlike middel gebruik om gedrag en opmerkings soos hierdie te beëindig. Dit is onmoontlik om stabiliteit in Suid-Afrika te skep wanneer die regering slegs ’n persverklaring uitreik in reaksie op hierdie gedrag. Dit is nie genoeg nie. Malema het homself herhaaldelik bewys as een van die belangrikste destabiliserende faktore vir wet en orde, sowel as verhoudings in Suid-Afrika.”
Geldenhuys sê sulke ongegronde stellings is heeltemal onaanvaarbaar vir die landbousektor en ’n klimaat skep waar jy ’n verskil deur geweld wil besleg. TLU SA beoog daarom om ’n formele klag vir die aanhitsing van geweld en haatspraak teen Malema by die Suid-Afrikaanse menseregtekommissie (MRK) te lê.
Gedrag hoort nie in grondwetlike demokrasie
Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê Malema se deurlopende oproepe tot geweldpleging, selfs moord, en sy opstoking van rassehaat kan nie langer geduld word nie. Die VF Plus het reeds ’n klag oor Malema se jongste uitlatings by die MRK ingedien. Dit word ondersoek.
Hy voeg by dat Malema se oproep aan EFF-lede dat afgereken moet word met “ ’n wit man” wat EFF-lede na bewering by ’n skool aangerand het, afstootlik en opruiend is. Malema het glo die lede gekritiseer omdat hulle nie reeds met die man afgereken het nie.
“Hierdie uitlatings word nie deur artikel 16 van die Grondwet se Handves van Regte, naamlik die reg tot vryheid van spraak, gedek nie. Die aanhitsing tot geweld word eerder uitdruklik van hierdie vryheid uitgesluit en moet vervolg word.”
Groenewald sê die party sal ook ’n strafregtelike klag van aanhitsing tot geweld by die polisie indien.
Hy meen die ANC-regering se laksheid om teen Malema en die EFF op te tree terwyl hy so te sê hoogverraad onder hul neuse pleeg met uitlatings soos dat die EFF die mag op enige moontlike wyse moet oorneem, is ewe kommerwekkend.
“Daar sal streng teen hierdie ongrondwetlike en onaanvaarbare gedrag opgetree moet word. Dit hoort nie in 'n grondwetlike demokrasie nie.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.