
Pres. Cyril Ramaphosa, wat na die onteiening van grond deur die apartheidsregering verwys het as die oorspronklike sonde wat verdeeldheid gebring het, het vir die eerste keer meer duidelikheid gegee oor wat hy in gedagte het om die wonde wat daardeur veroorsaak is, gesond te maak. Hy het geantwoord op die debat op die staatsrede wat Maandag in die Nasionale Vergadering plaasgevind het.
“Die onteiening van grond sonder vergoeding word gesien as een van die maatreëls wat ons sal gebruik om die herverdeling van grond aan swart Suid-Afrikaners te versnel.”
Maar hy dit ook duidelik gemaak dat ’n kollektiewe besluit geneem sal word hoe die maatreël ingestel kan word sodat dit ook landbouproduksie kan bevorder, armoede verlig en die ekonomie van die land kan versterk.
“Hierdie is ’n diepgaande verantwoordelikheid wat aan ons generasie gegee is. Ons is dit verskuldig aan ons voorvaders en aan ons kinders om te verseker dat dit vervul word.”
Vrese oor roekeloosheid besweer
Hy het vrese besweer dat onteiening sonder vergoeding roekeloos gedoen sal word. Die komplekse kwessie sal só hanteer word dat die foute wat ander gemaak het, nie herhaal word nie.
“Ons sal nie ‘vat en gryp’-ingrypings toelaat nie. Ons sal die kwessie hanteer op dieselfde manier wat ons al die ander moeilike kwessies in ons land moes hanteer. Ons sal altyd probeer om te doen wat in die beste belang van ons mense is.”
Ramaphosa het landsburgers ook gevra om die versnelling van grondhervorming te sien as ’n geleentheid en nie ’n bedreiging nie.
“Ons moet dit as ’n geleentheid sien om onsself te bevry van die bitterheid en pyn van die verlede,” het Ramaphosa benadruk.