
Dit is die soort reguit vrae wat boere aan pres. Cyril Ramaphosa gestel het tydens ’n geleentheid waar hy met boere en sakelui op die wynplaas Beyerskloof by Stellenbosch vergader het.
Boere het Ramaphosa glimlaggend verwelkom en ’n ernstige, maar tog ’n ligte atmosfeer van kameraadskap het geheers. Mnr. Beyers Truter van Beyerskloof het selfs gesê dat hy glo God het Ramaphosa as president aangestel en gesalf.
Mnr. Tim Whitfield, ’n wynboer van die plaas Tokara, wou weet wat die toekoms vir jong, wit wynboere soos hy inhou en ook hoe die onderrig van werkers in die wynbedryf verbeter kan word.
Ramaphosa het gesê daar is ’n toekoms vir wit jong mense in die land. “Hierdie is die Suid-Afrika van ons voorvaders en die een waar ’n beter lewe vir ons almal geskep moet word.” Die gevoel wat hulle het dat hulle nie welkom is in die land nie, is verkeerd.
Hy het selfs geskerts dat as hy kon, sou hy diegene wat die land verlaat, vasmaak aan ’n boom om hulle hier te hou.
Ramaphosa gaan binnekort self na die buiteland reis om die Suid-Afrikaners in die buiteland te vra om na die land terug te keer om Suid-Afrika te kom help groei. Rakende die onderrig van werkers, het hy gesê dat dit voortdurend gedoen moet word om vaardighede te verbeter, want die resultaat sal verhoogde produksievermoë wees.
Onteiening
Mnr. Johan Kruger van die landgoed Kanonkop het sy kommer uitgespreek oor onteiening sonder vergoeding en wou weet of die regering die wynbedryf beskou as deel van die voedselsekerheidsagenda.
Ramaphosa het dit duidelik gemaak dat onteiening sonder vergoeding binne ’n wetlike raamwerk gedoen sal word. Volgens hom is die wysigingswet op onteiening progressief. Hy het boere verseker dat grondhervorming nie iets is wat gevrees moet word nie.
Die grond wat in die visier is, is staatsgrond en ongebruikte staatsgrond, grond wat op ’n onwettige wyse bekom is, en grond in openbare belang. Daar moet ’n balans gevind word waar alle landsburgers voel die Grondwet is in hul guns en dat sekerheid van verblyfreg deur almal ervaar word.
Hy het gesê dat die wynbedryf versterk en ondersteun moet word, want dit laat die land se vlag in die buiteland wapper.
Hy het hom sterk uitgespreek teenoor die laksheid en luiheid in die openbare sektor. Hy wil sien dat die burokratiese prosesse wat besighede strem, met 50% verminder word.
Hy het vertel hy self was onderworpe aan hierdie soort struikelblok toe hy om ’n waterlisensie aansoek gedoen het toe hy water op sy plaas wou gebruik om mielies aan te plant. Ramaphosa wou nie hê die staatsamptenare moet weet dis hy wat aansoek doen nie. Daarom het hy dit in die naam van ’n trust gedoen. Dit het drie jaar geduur voordat die lisensie toegestaan is sodat hy die water op sy plaas kon gebruik.
Hy het ook beloof om die sweep selfs harder te slaan onder kabinetslede. Hul werksprestasie sal fyn gemonitor word.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.