
Pres. Cyril Ramaphosa glo die landbousektor het die potensiaal om selfs meer as ’n miljoen werksgeleenthede te skep vir die behoud van voedselsekuriteit sowel as ander doeleindes.
Ramaphosa het in sy repliek op die staatsrede-debat hom nie gesteur aan afbrekende kritiek of geniepsigheid oor sy stelling dat die private sektor die voertuig is om grootskaalse werk in die land te skep nie. Die landbousektor word as een van die sektore voorgehou waar die meeste volhoubare werksgeleenthede geskep kan word.
“Die ontslape prof. (Mohammed) Karaan van Stellenbosch het gesê die landbousektor het die potensiaal om ’n miljoen werksgeleenthede te skep. Ek glo ons kan daardie potensiaal ontsluit en selfs meer as ’n miljoen werksgeleenthede skep vir voedselsekuriteit en ander doeleindes.”
Karaan, een van die mees visionêre leiers in die landboubedryf, het in Januarie 2021 weens covid-19 gesterf. Hy was ’n voormalige dekaan van die fakulteit landbouwetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch asook ’n voormalige waarnemende viserektor.
Ramaphosa het verder uitgewys dat die presidensiële werkskeppingstimulus en strukturele hervormings van die belangrikste suksesse is wat die ekonomiese herkonstruksie- en herstelplan tot dusver opgelewer het.
Die inisiatief het werk en lewensbestaan moontlikhede aan meer as 850 000 mense verskaf in die 16 maande sedert sy ontstaan.
Koopbewyse
Met behulp van die inisiatief het meer as 100 000 kleinskaalse boere koopbewyse gekry het om hulle produksie uit te brei. Hy stem saam met die IVP dat die koopbewysprogram weer hervat moet word.
“Ons het aangekondig dat ons die skaal van hierdie program so gaan verhoog dat dit 250 000 kleinskaalse boere bereik en ons landelike landskap transformeer.”
Hy het benadruk dat as daar genoeg geld in die fiskus was, hy sou wou sien dat ’n miljoen kleinskaalse boere deel van die program is.
Private sektor
Ramaphosa het dit duidelik gemaak dat die staat, hoewel sy fokus nou op die ekonomie is, nie ander areas gaan nalaat nie. Die verbintenis om ’n gelyke en regverdige gemeenskap te bou, sal nie mee weggedoen word nie.
Die staat sal voortgaan om versperrings te verwyder wat dit moeilik maak om besigheid te doen en toegang tot finansiering te kry.
Hy is bly dat die land begin praat het oor wie se rol dit is om werk te skep vir die elf miljoen werkloses in die land. Hy het uitgewys dat die staat ’n duidelike rol te speel het via onder meer sy entiteite en openbare werkskeppingsprogramme, maar dat die realiteit is, soos in meeste ander lande, dat die private sektor die meeste werk skep.
“Die private sektor verskaf werk aan driekwart van Suid-Afrika se werkers en bestee meer as tweederdes op belegging sowel navorsing en ontwikkeling.”
Hy het uitgewys hoeveel meer werk die private sektor as die staat kan skep.
Indiensneming in die openbare sektor het van 1,9 miljoen in 2002 na 2,8 miljoen in 2017 gestyg. Oor dieselfde tydperk het indiensneming in die private sektor toegeneem vanaf 8,2 miljoen tot 13,5 miljoen.
Ramaphosa het uitgewys dat selfs China, onder Deng Xiaoping, die roete gevolg het om private kapitaal te mobiliseer en private besighede te bevorder om aan dié land se ontwikkelingsbehoeftes te voldoen.