
Mnr. Mooketsa Ramasodi, nuut aangestelde direkteur-generaal (DG) van die departement van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming, is vertroud met die verskeie kwessies en geleenthede wat boere, plaaswerkers en die landbouwaardeketting ervaar, sê Agri SA.
Hy neem nou waar as DG en is met ingang 1 Desember as DG aangestel.
Ramasodi het verskeie kere reeds waargeneem as DG van die departement toe vorige direkteurs-generaal die departement verlaat het of geskors was. Sy voorganger, mnr. Mike Mlengana, het die departement in Julie 2020 verlaat. Mlengana het gesê hy bedank omdat die departement se klem nie voldoende op dienslewering vir die landbougemeenskap gevestig is nie.
Mnr. Mdu Shabane wat die DG van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming was voor dié departement se samesmelting met die departement van landbou, het hierna waargeneem.
Shabane is gesien as ’n gunsteling om die DG van die nuwe departement te word. Sy kontrak is egter nie hernu nie en hy het die departement drie maande later verlaat.
Ramasodi het voorheen amptelik die pos as adjunkdirekteur-generaal vir landbouproduksie, gesondheid en voedselveiligheid by die departement beklee.
Aanstelling verwelkom
Agri SA het Ramasodi se aanstelling verwelkom en hom sterkte toegewens. “Hy het ’n lang geskiedenis in die departement, met begrip van die bestuur en toepassing van biosekerheidsrisikoplanne, en die bestuur en toepassing van die biosekerheids- en voedselveiligheidsraamwerk by hawens,” sê mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA.
Die DG hou toesig oor verskeie sleutelfunksies, onder meer die grondhervormingsproses, insluitend grondbesit en volhoubare ontwikkeling, die toepassing van grondhervormingsbeleid en -programme, die registrasie van titelaktes en ander dokumente, asook die koördinering van die ekonomiese groep se aktiwiteite.
Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê Ramasodi se ervaring in die landbousektor spreek vanself aangesien hy meer as ’n dekade in die sektor werk. Sy sê dat hy sy werk in die departement hervat in ’n kritieke tyd in 2021 waar die uitkyk vir die landbou gunstig is en verwag word dat die sektor sterk groeisyfers sal toon en werk sal skep ten spyte van die ongunstige impak van die covid-19-pandemie.
“Hy hervat ook sy rol in ’n tyd dat Suid-Afrika worstel met die grondkwessie en waar die departement verskeie beleide toepas, soos die beleide vir die kies van begunstigdes, die toekenning van grond en skenking van grond, wat daarop gemik is om billikheid en doeltreffendheid in grondhervorming te bring.”
Verskeie DG’s
Voor Mlengana se aanstelling in 2016 het ’n ou hand in die departement, mnr. Mortimer Mannya – die adjunkdirekteur-generaal vir landbouproduksie – as DG waargeneem. Dit het gevolg nadat prof. Edith Vries se kontrak in 2015 verstryk het. Vries was ’n leier op die gebied van akademiese navorsing, ’n spesialis in bestuur en was die uitvoerende hoof in die kantoor van die uitvoerende hoof van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust.
Sy was die derde heeltydse DG sedert me. Tina Joemat-Pettersson in 2009 die minister van landbou, bosbou en visserye geword het. Die vorige DG’s was me. Njabulo Nduli en mnr. Langa Zita. In die tydperk het vyf mense by die departement as DG waargeneem.